top of page

DBL Hoofstuk 1: Wat is die verskil tussen ’n liedjie maak en liedjieskryf?

Writer: Duquesne
Duquesne
Jun 16
11 min read

Updated: Jun 18

Warm music studio desk with laptop reading Liedjieskryf-reeks Hoofstuk 1, speakers, guitar, headphones, and notebook.

Deel van 'Die Liedjieskrywer' reeks, met die doel om gehalte, vakmanskap en praktiese liedjieskryf in die moderne musiekera te verhef. Geskryf deur Duquesne. (Wie is Duquesne?)

Die BEWUSTE Liedjieskrywer Reeks:

Hoofstuk 3: Proses bo produk: waarom die maakproses nog saak maak

Hoofstuk 4: Prosodie: wanneer woorde, melodie en struktuur saamwerk

Hoofstuk 5: ’n Lied is ’n storie, nie net ’n gevoel nie

Hoofstuk 6: Daar is nie een regte manier om ’n lied te skryf nie — maar daar is swak vakmanskap

Hoofstuk 7: Inspirasie is nie genoeg nie

Hoofstuk 8: Beelde, sintuie en die menslike besonderhede wat ’n lied laat leef

Hoofstuk 9: Gereedskap, etiek en verantwoordelikheid in moderne liedjieskryf

Hoofstuk 10: ’n Minimum standaard vir gehalte-liedjieskryf


Leeruitkomste

Ná hierdie hoofstuk behoort jy die verskil te verstaan tussen ’n “liedagtige” produk en ’n bewustelik geskrewe lied. Jy behoort ook jou eie liedjie se kernidee in een sin te kan formuleer, en te kan toets of elke deel van jou liedjie daardie idee dien.


Kernbegrippe

Die kernbegrippe in hierdie hoofstuk is: liedjie maak, liedjie skryf, outeurskap, bewuste keuse, kernidee, emosionele beweging, vorm, smaak, oordeel, prosodie en hersiening.


1. Enigiemand kan iets maak wat soos ’n lied klink

Vandag kan iemand binne vyf minute iets maak wat soos ’n liedjie klink. ’n Ritme kan gekies word. ’n loop kan herhaal word. ’n kunsmatige-intelligensieprogram (KI) kan lirieke voorstel of skryf. ’n Stem kan gegenereer word. ’n digitale oudiowerkstasie (DAW) kan alles blink poleer totdat dit amper professioneel voel.

Maar vyf minute se klank is nie noodwendig drie minute se betekenis nie.

Dit is die groot uitdaging van die moderne musiekera: ons het meer gereedskap as ooit, maar nie noodwendig meer begrip van wat ’n lied laat werk nie. KI, loops, samples, synthesizers en digitale produksie het die proses vinniger gemaak, maar hulle het nie die basiese vraag verander nie:


Werk dit as liedjie?

’n Liedjie kan indrukwekkend klink en steeds swak geskryf wees. Dit kan ’n sterk ritme hê, maar geen emosionele beweging nie. Dit kan ’n mooi akkoordprogressie bevat, maar niks sê wat werklik betekenis dra nie. Dit kan ’n koortjie bevat wat sinematies klink, maar niks in die luisteraar ontsluit nie.


Daarom begin hierdie reeks met ’n noodsaaklike onderskeid: daar is ’n verskil tussen die maak van 'n liedjie en die skryf van 'n liedjie. Om ’n liedjie te maak, kan beteken dat jy dele bymekaar sit totdat dit soos musiek funksioneer. Om ’n liedjie te skryf, beteken dat jy ’n emosionele struktuur vorm waarin elke keuse ’n doel het; ’n diep menslike ervaring wat deur klank, taal, melodie en ritme oorgedra word.


2. ’n Liedjie is meer as net ’n produk

’n Liedjie is nie bloot ’n kombinasie van akkoorde, lirieke, melodie en produksie nie. Daardie aspekte is belangrik, maar hulle is nie op sigself genoeg nie. ’n Liedjie is ’n georganiseerde emosionele gebeurtenis. Dit neem die luisteraar op ’n innerlike reis. Dit begin by ’n gevoel, vraag, beeld, konflik of behoefte, en begelei die luisteraar deur ’n emosionele landskap. Soms is daardie beweging dramaties: van verlies na aanvaarding, van woede na vergifnis, van eensaamheid na hoop. Soms is die liedjie meer subtiel: van verwarring na ’n klein oomblik van helderheid.


Maar daar moet beweging wees. Daar moet progressie wees. Dink aan twee moontlike lied-idees:

Aanvanklike weergawe: “Die ou man is oud en broos, en hy sukkel om te skryf."


Daar is niks noodwendig verkeerd met hierdie gedagte nie, maar dit is algemeen. Duisende liedjies kan dieselfde sê.

Verfynde weergawe: “Sy handskrif dun soos wintergras, sy hart al amper koel.”


Nou begin die lied spesifiek raak. Die broosheid word nie net verklaar nie; dit word gewys. Die emosie kry ’n beeld, ’n liggaam en ’n temperatuur. Die luisteraar kan dit sien en voel. Hierdie voorbeeld kom uit “Die Bundeltjie”, waar die beeld van die ou man se handskrif die lied se verganklikheid en geestelike gewig begin dra.

Dít is reeds ’n stap van “liedjie maak” na “liedjie skryf”.

Soos Bayles en Orland in Art & Fear noem, is kunsmaak nie net die vervaardiging van ’n finale produk nie. Dit is ’n proses van leer, toets, faal, kies, vorm, hersien en volhard. Vir die luisteraar is die finale lied dit wat hy of sy hoor. Vir die liedjieskrywer lê die vakmanskap dikwels in die onsigbare besluite en innerlike dialoog agter daardie liedjie.


3. Wat beteken dit om ’n lied bewustelik te skryf?

Bewuste liedjieskryf beteken nie dat elke lied stadig, akademies of oorontleed hoef te wees nie. Party liedjies kom vinnig. Party begin met ’n frase in die stort, ’n stemmemo op ’n foon, ’n akkoord wat per ongeluk raakgespeel word, of ’n melodie wat in jou oor bly draai. Die verskil is nie spoed nie. Die verskil is bewustheid. Die bewuste liedjieskrywer vra vrae soos:

  1. Waaroor handel hierdie lied werklik?

  2. Wie is aan die woord?

  3. Vir wie word hierdie liedjie gesing?

  4. Welke gevoel wil die lied by die luisteraar wek?

  5. Wat is die verloop tussen die eerste reëltjie en die slotkoortjie?

  6. Waarom is hierdie spesifieke beeld sterker as ’n algemene stelling?

  7. Waarom styg die melodie op ’n spesifieke plek, en waarom bedaar dit elders?

  8. Werk die natuurlike klem en lettergrepe van die woorde saam met die musiek?

  9. Welke reël klink mooi, maar dien nie die liedjie nie?


Hierdie vrae maak die liedjie nie koud of meganies nie. Inteendeel: hulle help die liedjie om van ’n rou skets tot ’n duideliker, ryker en meer betekenisvolle kunswerk te ontwikkel. Gestel jy skryf oor verlies. “Verlies” is nog nie ’n lied nie; dit is ’n tema. Is dit verlies ná ’n dood? Ná ’n verhouding? Ná emigrasie? Ná geloofsvertroue wat gebreek het? Ná ’n kind wat grootword en wegtrek? Elke antwoord vra ’n ander lied. ’n Lied soos “Teen Ysterberg se Rand” werk juis omdat dit verlies nie net as algemene rou behandel nie, maar as herinnering, grond, kruise, name, wonde en berusting.


Daarom is die kernidee van ’n liedjie van kardinale belang. Die kernidee is nie net die onderwerp nie. Dit is die spesifieke emosionele enjin wat die lied dryf. “Teen Ysterberg se Rand” as voorbeeld:

“Hierdie liedjie is ’n klaaglied oor die herinnering aan slagoffers wie se name, verhale en wonde deur die grond en die kruise teen Ysterberg se rand bly fluister. Die emosionele beweging is van bitter rou na letsel-berusting.”

Die skrywer is dus nie bloot besig om woorde te rangskik nie; hy neem verantwoordelikheid vir die lied se emosionele geboorte. Die beelde moet herinnering, pyn en trauma dien, maar ook help om oop wonde in letsels te verander. Die melodie moet dalk nie net hartseer wees nie, maar ook dien as ’n brug van pyn na genesing. Vers 2 mag nie net vers 1 herhaal nie; dit moet die luisteraar nader aan berusting bring.


Hier kom prosodie ook ter sprake. Prosodie beteken dat die natuurlike klem, ritme en betekenis van die woorde saamwerk met die melodie. Wanneer woord, noot, ritme en gevoel mekaar ondersteun, voel ’n lied natuurlik. Wanneer hulle teen mekaar werk, voel iets verkeerd, selfs al weet die luisteraar nie altyd hoekom nie.


As ’n karakter sing “ek val,” kan ’n dalende melodiese beweging die betekenis versterk. As die melodie op daardie woord onnatuurlik opspring, kan dit die emosie verwar, tensy die skrywer dit doelbewus gebruik vir ironie, spanning of teenstelling. Só ’n teenstelling moet egter die groter verhaal van die liedjie dien. Die vraag is dus nie bloot of die melodie mooi is nie. Die vraag is of die melodie die betekenis dra of ondersteun.


Dít is bewuste liedjieskryf: nie om die misterie van die dood te analiseer nie, maar om die liedjie te help ontwikkel tot ’n klein, gevormde verhaal met emosionele waarheid.


4. KI, kreatiwiteit en menslike oordeel

KI het hierdie gesprek dringender gemaak, maar KI het nie die probleem in musiek geskep nie. Lank voor KI was daar reeds liedjies sonder duidelike struktuur, swak lirieke, oppervlakkige emosie en clichés. Lank voor KI kon mense reeds iets maak wat soos ’n liedjie klink sonder dat dit werklik as lied werk. Dele van die Afrikaanse musiekbedryf het lank voor KI reeds gebuk gegaan onder voorspelbare formules, maklike rympies, herwinde clichés en produksies wat beter geklink het as wat die liedjies geskryf was.


KI maak dit net makliker om vinnig by ’n afgeronde oppervlak uit te kom. Dit is soos ’n gety wat al die skepe in die hawe lig; maar die storm wat die skrywer moet trotseer, is nie die gereedskap self nie. Die werklike storm is ongeduld: die onwilligheid om lank genoeg by ’n idee te bly totdat dit betekenis begin kry.


Margaret Boden se werk oor kreatiwiteit help om hierdie gesprek nugter te hou. Kreatiwiteit behels dikwels kombinasie, verkenning en transformasie. ’n Skrywer kombineer invloede, verken moontlikhede binne ’n styl, en verander soms die verwagtinge van daardie styl. In hierdie sin kan KI sekere kreatiewe prosesse ondersteun. Dit kan patrone herken, style meng, variasies voorstel en nuwe kombinasies genereer. Maar om met woorde te verf, om uit ervaring te kies, en om betekenis te dra, bly ’n menslike verantwoordelikheid.


Dit beteken KI kan nuttig wees. Dit kan ’n beginpunt gee. Dit kan ’n alternatiewe koor voorstel. Dit kan jou help om uit skrywersblok te kom. KI kan selfs ’n nuwe subidee laat opbruis uit die gis van ’n algemene konsep.

Maar KI-uitset is nie outeurskap nie.

Outeurskap begin wanneer ’n menslike skrywer verantwoordelik begin kies en skep. Jy moet weet wat om te hou, wat om te sny, wat om te herskryf en wat om te verwerp. Jy moet kan hoor wanneer ’n reël bekend klink, maar niks nuuts sê nie. Jy moet kan voel wanneer ’n melodie indrukwekkend is, maar nie die woorde dra nie. Jy moet kan erken wanneer ’n produksie die swakheid van die lied probeer wegsteek. Jy moet ook kan hoor wanneer die sinne te lank raak, wanneer die ritme begin sleep, of wanneer die liedjie sy eie vorm begin verloor.


Die vraag is dus nie of jy as liedjieskrywer KI mag gebruik nie. Die beter vraag is: “Gebruik ek hierdie gereedskap om die liedjie te verhef, of gebruik ek dit om te vermy dat ek as skrywer deur die moeilike werk van keuse, worsteling en hersiening moet gaan?”


Vir ons as musikante is liedjies nie net vermaak nie; dit is draers van geheue, emosie, troos, konfrontasie en genesing. ’n Lied kan iets in die luisteraar benoem waarvoor hy of sy nog nie woorde gehad het nie.

KI kan genereer. Maar ’n liedjieskrywer verwek.

5. Die praktiese onderskeid: begin met een idee

’n Goeie praktiese beginpunt is eenvoudig: begin met een idee en bou daarvandaan. Die American Songwriter-benadering stel dit helder: moenie probeer om alles gelyk te doen nie. Begin klein, maar doelbewus.


’n Lied kan begin met amper enigiets:

  • ’n frase;

  • ’n beeld;

  • ’n akkoordprogressie;

  • ’n melodiese motief;

  • ’n ritme;

  • ’n karakter;

  • ’n herinnering;

  • ’n vraag;

  • ’n emosionele oomblik.


Die beginpunt is minder belangrik as wat jy daarna daarmee doen. As jou lied met ’n akkoordprogressie begin, vra: welke emosionele wêreld maak hierdie akkoorde oop? As dit met ’n liriese frase begin, vra: wie is aan die woord, en waarom nou? As dit met ’n ritme begin, vra: welke liggaamlike of emosionele beweging word deur hierdie ritme gedra? As dit met ’n beeld begin, vra: waarom spook hierdie beeld by my?


Sodra die kernidee duidelik word, kry elke deel van die liedjie ’n funksie.

  • Vers 1 stel die wêreld bekend.

  • Die voorkoortjie bou ’n brug na die koortjie.

  • Die koor dra die groot emosionele lading.

  • Vers 2 verken die idee verder of delf dieper daarin.

  • Die tweede voorkoortjie kan die emosionele spanning verhoog en die koor sterker laat land.

  • Die brug gee slegs ’n nuwe hoek, of bring die luisteraar tot verdere insig.

  • Die laaste koortjie behoort sterker te voel omdat die lied teen daardie tyd meer beteken as aan die begin. Dit kan musikaal groter wees, liries skerper wees, of die lied terugbind aan die eerste beeld.

(Voorkoortjies is optionele dele van 'n liedjie.)


Hier lê een van die algemeenste probleme in swak liedjies: hulle het dele, maar die dele is geïsoleer of herhalend. Daar is ’n vers, maar die vers is bot of algemeen. Daar is ’n koortjie, maar dit verdiep nie die emosionele ervaring nie. Daar is ’n tweede vers, maar dit herhaal die eerste vers met ander woorde. Daar is ’n brug, maar dit bestaan net omdat die skrywer dink ’n lied “moet” een hê.

Bewuste liedjieskryf vra: Wat is die doel van hierdie deel van die liedjie?

6. Praktiese oefeninge: die een-sin-toets

Neem nou ’n liedjie waaraan jy werk. Die liedjie hoef nie klaar te wees nie. Dit kan ’n versie wees, ’n koortjie, ’n stemmemo, ’n demo of net ’n rou idee.


Voltooi hierdie sin:

“Hierdie lied handel oor ________, maar die dieper emosionele beweging is ________.”

Voorbeelde:

  • “Hierdie lied handel oor ’n vrou wat haar ou huis verlaat, maar die dieper emosionele beweging is van rou na vryheid nadat haar seun tragies in daardie huis gesterf het.”

  • “Hierdie lied handel oor ’n man wat droom oor ’n vrou wat hy glo buite sy bereik is, maar die dieper emosionele beweging is dat sy ook haar eie tekortkominge probeer wegsteek in die hoop dat hy haar sal raaksien.”

  • “Hierdie lied handel oor twee mans wat ideologies teenoor mekaar staan, maar die dieper emosionele beweging is die ontdekking dat hulle broers is wat saam grootgeword het.”


Vra daarna:

  1. Welke deel van die lied dra hierdie idee die sterkste?

  2. Is daar enige reël, beeld, akkoord, melodie of klank wat nie hierdie idee dien nie?

  3. Werk die prosodie natuurlik, of klink die woorde gedwing teen die melodie?

  4. Wat moet hersien word sodat die lied se identiteit duideliker is?


As jy nie jou lied in een sin kan beskryf nie, beteken dit nie die lied is sleg nie. Dit beteken waarskynlik dat daar nog marmer is wat weggebeitel moet word om die lied te ontbloot.


7. Selfassessering

Gebruik hierdie kort kontrolelys voordat jy jou lied as afgehandel beskou:

  1. Kan ek die kernidee in een sin sê?

  2. Weet ek wie aan die woord is en aan wie die lied gerig word?

  3. Is die beelde spesifiek, of net algemeen emosioneel?

  4. Is daar verandering tussen die begin en die einde van die liedjie?

  5. Ondersteun die melodie die betekenis van die woorde?

  6. Werk die natuurlike klem van die lettergrepe saam met die melodie?

  7. Ontwikkel vers 2 die lied verder?

  8. Het die brug werklik ’n doel of funksie?

  9. Is die produksie besig om die lied te komplementeer, of probeer die produksie die lied red?

Hierdie vrae is nie bedoel om kreatiwiteit in te perk nie. Die doel hiervan is om kritiese denke te ontwikkel, oortolligheid te verwyder en jou te beskerm teen die leuen dat ’n lied klaar is net omdat dit klaar klink.


8. Bronnota

Hierdie hoofstuk steun op drie belangrike idees uit die liedjieskryf- en kreatiwiteitsliteratuur.

  1. Eerstens herinner Bayles en Orland se Art & Fear ons dat kuns nie bloot ’n finale produk is nie, maar ’n proses van werk, keuse, twyfel, vorming en volharding.

  2. Tweedens help Margaret Boden se The Creative Mind: Myths and Mechanisms, oor kreatiwiteit ons om te verstaan dat kreatiewe werk dikwels deur kombinasie, verkenning en transformasie gebeur.

  3. Derdens sluit die praktiese benadering van American Songwriter Gilde se Liedjieskrywersgids hierby aan: begin met een idee, maak spesifieke keuses, en verstaan dat elke deel van ’n lied ’n funksie het.


Die doel is nie om liedjieskryf met akademie te beswaar nie. Die doel is om die skrywer se vermoë te verskerp en te verhef. Met hierdie benadering wen die lied, die skrywer en die luisteraar. Die luisteraar word nie bloot vermaak nie; hy of sy kan geraak, getroos, uitgedaag of opgebou word. En wanneer Afrikaans met sorg, beeldkrag en vakmanskap gebruik word, word die taal self ook verhef.


9. Die gereedskap het verander; die beginsels nie

Ons hoef nie bang te wees vir nuwe gereedskap nie. KI, loops, samples, synthesizers en DAW’s kan nuttige hulpmiddels wees. Hulle kan idees ontsluit, teksture voorlê, variasies voorstel en nuwe kreatiewe paaie uitwys. Maar geen gereedskap kan die liedjieskrywer se skeppingsverantwoordelikheid en hart vervang nie.


Ek glo dat ’n liedjie ’n eie wordende lewe het. Soos ’n kind word dit met aandag gevorm. Die liedjie groei deur emosionele beweging. Dit vra vir ’n toekomsverhaal. Dit vra vir voeding, tugtiging en leiding. Dit vra dat iemand moet luister en eerlik daaroor praat: hierdie deel werk; hierdie deel lieg; hierdie beeld is te maklik; hierdie melodie dra die emosie; hierdie woord val verkeerd op die noot; hierdie reël moet weg.

Om ’n lied te verwek, is om klanke, woorde en emosie saam te smee.

Om ’n lied te skryf, is om die luisteraar in ’n gevormde emosionele wêreld in te nooi. Die gereedskap het uitgebrei, maar die beginsels van goeie liedjieskryf is steeds dieselfde.

KI kan genereer, maar die liedjieskrywer verwek.

Comments


Volg @Duquesnemusiek

en bly op hoogte van nuwe vrystellings!

  • Facebook
  • TikTok
  • Instagram
  • Youtube
  • Spotify
  • Apple Music

© 2026 by Duquesne Musiek Produksie.

bottom of page