Navigeer die toekoms van musiek in ’n Wêreld van KI

Updated: Jun 22

Duquesne is ’n Afrikaanse musikant en liedjieskrywer wat musiek in Bloemfontein studeer het en reeds meer as 21 jaar lank liedjies skryf. In sy kreatiewe proses maak hy gebruik van beide tradisionele en moderne hulpmiddels, insluitend analoog en KI-gedrewe instrumente, as deel van sy benadering tot musiekskepping. Alle lirieke word egter steeds deur Duquesne self geskryf — ’n proses waarin persoonlike ervaring, geskiedenis en storievertelling sentraal staan.
Inleiding
Hierdie week het ek ’n interessante e-pos ontvang vanaf ’n radiostasie. Die e-pos was in antwoord op my onlangse vrystelling Vuur en Bloed. Dit het gegaan oor die uitdaging waarmee radiostasies toenemend gekonfronteer word: die stygende vloed van volledig of gedeeltelik KI-vervaardigde musiek. Die mark word oorstroom met nuwe inhoud. Liedjies word vinniger vervaardig as ooit tevore. Radiostasies begin reeds die effekte daarvan ervaar.
Die boodskap het min of meer gesê dat daar deesdae soveel liedjies ingestuur word wat geheel of gedeeltelik met KI-tegnologie vervaardig word, dat nuwe musiek voorlopig teruggehou word totdat daar groter duidelikheid bestaan oor hoe om daarmee te handel.
Ek het die e-pos gelees, teruggesit in my stoel, en vir ’n oomblik gedink: miskien staan ons aan die begin van iets groter as net nóg ’n gesprek oor Kunsmatige Intellegensie (KI).
Dalk staan ons op die drumpel van ’n nuwe gesprek oor musiek self. Oor die manier waarop ons waarde, kuns en betekenis verstaan. Dit is egter duidelik, met die Afrikaanse Liedjievloed, klop die hart van Afrikaans sterk en gesond.
Musiek en Tegnologie
Vir die grootste deel van geskiedenis was musiek skaars. Om ’n lied te produseer was soos om ’n huis te bou. Jy het musikante nodig gehad. Opnametoerusting. Tyd in ’n ateljee. Mense wat kon skryf, speel, sing, meng en vervaardig. Om iets die wêreld in te stuur het moeite en geld gekos.
Ek praat van ’n tyd toe opnamekamers nog nie in jou sak gepas het nie. ‘n Industrie waaraan ek bekend is as ‘n voormalige sessie-musikant.
Vandag lyk dinge egter anders. Iemand kan binne minute melodieë genereer, instrumente voorstel, stemme skep en iets publiseer. Die hekke het skielik wyd oopgeswaai. En om eerlik te wees — daar is iets merkwaardig daaraan. Tegnologie maak deure oop vir mense wat vroeër nooit toegang gehad het nie.
Dis ook nie die eerste keer dat ons so iets beleef nie. Henry Ford het nie die motor uitgevind nie; maar deur middel van massaproduksie, het Ford voertuie koste-effektief en toeganklik gemaak. Fotografie het nie skilderkuns vernietig nie. Grafiese ontwerpsagteware het nie kunstenaars laat verdwyn nie, maar wel ‘n nuwe wêreld van digitale kuns en meme-kultuur verwek.
Maar elke tegnologiese sprong doen iets interessants: Tegnologie verander nie net hoe ons dinge produseer nie. Dit verander ook waaraan ons waarde heg.
Fotografie het die landskap van visuele kuns verander, maar dit het nie skielik alle skilderye waardeloos gemaak nie. Ontwerpsagteware het ontwerp makliker gemaak, maar dit het nie goeie smaak, visie of vakmanskap outomaties geskep nie.
Musiek staan by dieselfde kruispad — wat ons noodsaak om te vra, wat is waardevol?
KI, soos baie tegnologiese veranderings voor hom, aanvanklik met ’n mate van ongemak begroet. Daar is altyd die gevoel dat tegnologie iets van die mens gaan wegskaaf — dat die instrument uiteindelik die kunstenaar gaan vervang. Maar te midde van onsekerheid begin sommige instellings reeds besef dat die vraag dalk nie is óf KI-musiek bestaan nie, maar hoe ons dit verantwoordelik verstaan en beoordeel. Lof aan die FAK vir hul progressiewe benadering tot KI-musiek met die byvoeging van ‘n nuwe kategorie tot hul Skryf’it liedjie kompetisie.
Maar ware kunstenaarskap het nog nooit in die instrument self gelê nie. Die ware kunstenaar sal altyd kwaliteit probeer skep, ongeag die gereedskap in sy hand. Of dit nou analoog of digitaal is. Verf op doek, ’n kamera, of kunsmatige intelligensie.
Betekenis word nie deur ‘n instrument geskep nie. Die fynere besonderhede van kuns — die intuïsie, die menslikheid, die dinge wat moeilik meetbaar is — kom nie uit bisse en grepe (“bits & bytes”) nie. Dit kom uit die hart.
Want vir die musikant gaan dit nie net oor note nie. Dit gaan oor iemand wat laatnag met klawer en snaar worstel en ink dwing tot harmonie. Daarna die genot om saam as orkes die konfeit van die mure te krap.
En miskien het die diamantbedryf hierdie vraag reeds jare gelede begin antwoord. Aanvanklik was die gesprek eenvoudig: natuurlike diamante teenoor laboratorium-diamante. Maar vandag raak daardie onderskeid al minder belangrik.
Uiteindelik kyk min mense na ’n ring se koolstof oorsprong. Hulle sien ‘n ring. Die ontwerp. Die vakmanskap. Die kuns waarmee die juwelier iets saamgevleg het tot iets groter as sy individuele dele. Dalk beweeg musiek nou in dieselfde rigting.
Die vraag gaan al minder wees of iets deur KI of analoog vervaardig is, en meer:
Wie is die skepper en wat is sy verhaal?
Wat is die boodskap aan my as luisteraar?
Waarom bestaan hierdie lied?
Kitskos of Michelin
Ons leef reeds in ’n wêreld vol kitskos. Vinnig. Oorvloedig. Gerieflik. Maar niemand verwar kitskos met Michelin-kookkuns nie. Interessant genoeg werk dit beide rigtings.
Kan ’n KI-lied Michelin-standaard bereik? Absoluut!
Kan ’n tradisionele lied kitskos wees? Absoluut!
Die metode bepaal nie die kuns nie.
Albert Immelman
Albert Immelman se skepping Oom Paul is dalk ’n interessante voorbeeld hiervan. Die lied is gedeeltelik met behulp van KI-tegnologie vervaardig, maar min mense sou argumenteer dat die waarde daarvan minder is. Ja, daar is enkele komposisie- of tegniese onvolmaakthede. Maar iets merkwaardigs het gebeur: die akademiese reëls van komponering word oorskadu deur die emosionele trefkrag van die lied en die kwaliteit van die lirieke en tempo. Uiteindelik onthou mense nie die tegniese aspekte van die lied nie, maar onthou hoe die lied hul laat voel het.
Jakkals Vibes
Dieselfde geld vir die sukses van Jakkals Vibes, maar om ’n ander rede. Die aantrekkingskrag lê dalk nie noodwendig in ingewikkelde poësie of diep liriese kompleksiteit nie. Die trefkrag lê eerder in iets anders: die vasvang van ’n bekende emosie — die gevoel van tradisionele Afrikaanse danskultuur, kuier, ligtheid en herkenning. Miskien is dit ’n soort smaakvolle kitsmaaltyd-benadering. En om eerlik te wees: wie wys ’n goeie kitsmaaltyd van die hand?
Die instrument bepaal nie die kuns nie. Die visie doen. Die bedoeling doen.
En is dit juis wat hierdie nuwe era ons dwing om te doen: om weer te vra wat is kuns? Is dit bloot ’n dansnommertjie vir die oomblik? Iets wat vir drie weke op ’n speellys leef en dan verdwyn?
Of is dit iets wat met jou praat? Iets wat jou laat onthou? Iets wat ’n stuk van jou eie verhaal teruggee op ’n manier wat jy self nie kon verwoord nie? Want is dit nie nog altyd die doel van kuns nie? Nie net om gehoor te word nie.
Maar die deel van jou hart as kunstenaar is soos die geboorte van ‘n onskuldige kind en die bekendstelling van daardie kind aan familielede.
Gevolgtrekking
Ek weet nie hoe radiostasies se beleid oor KI-musiek gaan formuleer nie. Ek dink eerlikwaar ons almal probeer nog verstaan waarheen hierdie pad loop. Maar ek vermoed ons staan op die vooraand van 'n interessant groei in die Afrikaanse musiekbedryf. Dalk is hierdie nuwe fase van musiek die begin van 'n nuwe waardebepaling van musiek.
Dalk is dit juis die geleentheid wat aan musiekante en luisteraars die geleentheid gun om die weer die kuns van musiek te ontdek.
Want in ’n wêreld waar enigiemand binne dertig sekondes ’n lied kan skep, gaan die vraag dalk nie wees wie die meeste musiek kan maak nie—maar wie kan kuns en kleur verwek wat die hart diep raak, vuiste bal en oë laat traan.


Comments