top of page

DBL Hoofstuk 2: Waarom luisteraars nie meer gehalte herken nie.

  • Writer: Duquesne
    Duquesne
  • Jun 17, 2020
  • 12 min read

Updated: Jun 18

Warm-lit music studio desk with laptop showing Liedjieskryf-reeks Hoofstuk 2, headphones, guitar, and audio gear.

Deel van 'Die Bewuste Liedjieskrywer' reeks, met die doel om gehalte, vakmanskap en praktiese liedjieskryf in die moderne musiekera te verhef. Geskryf deur Duquesne. (Wie is Duquesne?)

Die BEWUSTE Liedjieskrywer Reeks:

Hoofstuk 3: Proses bo produk: waarom die maakproses nog saak maak

Hoofstuk 4: Prosodie: wanneer woorde, melodie en struktuur saamwerk

Hoofstuk 5: ’n Lied is ’n storie, nie net ’n gevoel nie

Hoofstuk 6: Daar is nie een regte manier om ’n lied te skryf nie — maar daar is swak vakmanskap

Hoofstuk 7: Inspirasie is nie genoeg nie

Hoofstuk 8: Beelde, sintuie en die menslike besonderhede wat ’n lied laat leef

Hoofstuk 9: Gereedskap, etiek en verantwoordelikheid in moderne liedjieskryf

Hoofstuk 10: ’n Minimum standaard vir gehalte-liedjieskryf


Leeruitkomste

Ná afhandelings van hierdie hoofstuk behoort jy die verskil te verstaan tussen die luister van 'n liedjie bloot genot, en om as vakman na ’n liedjie te luister. Jy behoort ook te kan onderskei tussen persoonlike smaak en liedjieskryfgehalte, en ’n liedjie prakties te kan ontleed deur te luister vir struktuur, hak, afdelingfunksie, prosodie, emosionele beweging, kontras, beeldspraak en produksie se verhouding tot die liedjie self.


Kernbegrippe

Die kernbegrippe in hierdie hoofstuk is: luisterbewustheid, gehalte, vakmanskap, smaak, oordeel, produksie, vibe, hak, afdelingfunksie, emosionele beweging, spanning en ontlading, prosodie, punt van uitsig, beeldspraak, herhaling, memorabiliteit, subjektiewe voorkeur en bewuste luister.


1. Ons hoor baie, maar luister min

Die hedendaagse luisteraar word daagliks met musiek oorstroom, maar oorvloed het nie noodwendig die luisteraar se oor verskerp nie. Ons leef in ’n tyd waar musiek oral voorkom: in voertuie, winkels, restaurante, advertensies, rolprente, gimnasiums, speellyste, en agtergrondmusiek terwyl ons werk. Stroomdienste stel musiek onmiddellik beskikbaar. Kortvormvideo’s het liedjies in fragmente verander. En algoritmes leer vinnig wat ons voorkeure is en voer ons met soortgelyke inligting sonder om te skroom.


Gevolglik kan baie mense ’n gevoel dadelik herken: ’n soort ritme, ’n klankkleur, ’n stemstyl, ’n produksieformaat, ’n bekende genre of ’n nostalgiese heimwee. Hierdie herkenning beteken nie noodwendig dat 'n persoon van hoor na skryf kan beweeg sonder om sekere konsepte onder die knie te kry nie.


Hoofstuk 2 vloei natuurlike vanuit Hoofstuk 1, waar ons gevra het: “Werk dit as liedjie?” En nou vra ons: “Kan jy hoor waarom dit werk?” Want ’n liedjie kan lekker klink sonder om sterk gebou te wees. En ’n liedjie kan eenvoudig klink, maar diep vakmanskap bevat. In hierdie reeks beteken gehalte nie bloot duur produksie, ’n mooi stem of persoonlike voorkeur nie.

Gehalte beteken dat die dele van die liedjie — liriek, melodie, vorm, hak, prosodie, beelde, ritme en emosionele beweging — die kernidee doelbewus dien.

Die bewuste liedjieskrywer moet dus leer om verby die oppervlak te luister. Ná jare van vinnige, oppervlakkige luister kan ’n goedgeskrewe liedjie voel soos ’n lus waarvoor die oor eers moes leer honger word.


2. “Hou van” is nie dieselfde as “herken” nie

Daar is niks verkeerd om sonder rede van ’n liedjie te hou nie. ’n Luisteraar mag van ’n liedjie hou, omdat die liedjie die luisteraar aan 'n oomblik in sy verlede herinner. ’n Liedjie kan verbind wees aan ’n eerste skooldans, ’n stowwerige plaaspad, ’n ingewikkelde verhouding, ’n emosionele begrafnis, ’n onvergeetlike rugbytoer, ’n harde kerkbank, ’n heldeverhaal, ’n stoute somervakansie of ’n bepaalde kultuurgebeurtenis. Daardie herlewing van ’n mens se eie geskiedenis is diep persoonlik.

Dit is juis hiér waar musiek floreer: dit speel met geheue, emosie en identiteit.

Maar smaak en ontleding is nie dieselfde aspek nie. Die gewone luisteraar vra dikwels: “Hou ek hiervan?” Die liedjieskrywer moet verder vra: “Waarom werk dit — of waarom werk dit nie?” Daardie tweede vraag verander die manier waarop jy luister. As vakman luister jy nie net vir plesier nie, maar vir doel en funksie. Jy begin hoor hoe die liedjie jou belangstelling verkry, hoe liedjie spanning bou, die koortjie tref, hoe ’n beeld bly flikker, ’n melodie die liriek dra, en hoe die tweede vers die liedjie verdiep of verswak.


Dit beteken nie dat die vakman ongevoelig is nie. Inteendeel. Die vakman leer om die boublokkies van gevoel raak te hoor en elke kwaslyn op die doek te waardeer. Pat Pattison se benadering tot lirieke draai dikwels om ’n eenvoudige, maar veeleisende toets: welke weergawe laat die luisteraar meer emosioneel betrokke? Dit is nie vae sentiment nie. Dit is vakmanskap. Die liedjieskrywer gebruik tegniese keuses om ’n emosionele reaksie moontlik te maak.


3. Die oppervlak van ’n liedjie: produksie, vibe en herkenbaarheid

Die eerste ding wat baie moderne luisteraars hoor, is nie altyd die liedjie nie, maar die verpakking rondom die liedjie. Hulle hoor produksiegehalte. Hulle hoor volume. Hulle hoor die ritme. Hulle hoor ’n dinamiese stem. Hulle hoor hul voorkeurgenre en meet die nuwe liedjie teen ’n ou gunsteling. Hulle hoor of dit modern, oud, warm, groot, donker, nostalgies, dansbaar of “radio-gereed” klink.


Vir die vakman is hierdie aspekte nie onbelangrik nie. Produksie kan ’n liedjie verhef. ’n Goeie verwerking kan ’n eenvoudige idee laat pols. ’n Sterk klanklandskap kan ’n emosionele oomblik versterk. ’n Goeie stem kan ’n liriek geloofwaardig bekendstel. Maar produksie is nie dieselfde as liedjiegehalte nie. Produksie kan ’n goeie liedjie verhef, maar dit kan nie ’n arm en leë liedjie red nie.


Dit is veral waar in ’n digitale era waar professionele klank al hoe makliker beskikbaar raak. ’n Liedjie kan indrukwekkend klink sonder dat dit indrukwekkend is. Dit kan helder gemeng wees, sinematies bou, ’n dramatiese koortjie hê en tog leeg lê in betekenis. Die luisteraar voel dalk energie, maar die vakman hoor die onderliggende vraag: wat bly oor as die verpakking wegval?


’n Sterk liedjie behoort steeds oor ’n kern te beskik wanneer dit gestroop word tot een instrument en stem alleen. Ek verwys nie noodwendig na ’n akoestiese styl van die liedjie nie. Ek bedoel ook nie dat elke liedjie eenvoudig moet wees nie. Ek verwys na die kernidee, en daardie kernidee moet oorleef wanneer die produksie vereenvoudig word.

As die liedjie slegs werk omdat die produksie indrukwekkend is, is die liedjie dalk armer as wat jy gedink het.

4. Wat die vakman hoor

’n Vakman luister anders. Hy vra nie net: “Klink dit lekker?” nie. Hy vra: “Wat doen hierdie liedjie?”


Om daardie vraag te beantwoord, begin die vakman by die kernidee van 'n betrokke liedjie. As die liedjie oor té veel onderwerpe handel, handel die liedjie effektief oor niks. ’n Goeie liedjie het gewoonlik ’n duidelike emosionele kern. Dit kan verlange wees. Berou. Heimwee. Trots. Verlies. Gebed. Verset. Liefde. Skuld. Hoop. Hierdie is die gom wat ’n liedjie bymekaar hou.


Daarna luister die vakman vir die hak: "Waar in die liedjie is die deel wat eggo lank nadat ek opgehou luister het?" Is dit ’n titelreël, ’n melodiese beweging, ’n ritmiese frase, ’n beeld, ’n akkoordprogressie of ’n donderende eenreël-koortjie? ’n Hak is nie net ’n element wat herhaal word nie. Dit is ’n element wat vassteek omdat dit kontras, eenvoud, herkenbaarheid en emosionele lading dra.


Dan kom afdelingfunksie. Elke deel van ’n liedjie het ’n werk om te vervul. Vers 1 moet nie net woorde hê nie; dit stel meestal die milieu of die persoon bekend — die spreekwoordelike verhoog. Dit gee karakter, wêreld, ruimte, spanning of vertrekpunt. Die koortjie, op sy beurt, moet nie net galm nie; dit moet die groot emosionele waarheid aan die luisteraar oordra. Vers 2 moet nie vers 1 met ander woorde herhaal nie; dit moet die liedjie vorentoe dra. En die brug moet nie bestaan omdat “liedjies brûe het” nie. ’n Brug moet ’n werklike rivier oorsteek, of die luisteraar na ’n nuwe insig, tragedie of ironie neem.


Die vakman luister ook vir prosodie. Val die woorde natuurlik op die melodie? Dra die klem van die musiek die klem van die taal? In Afrikaans is dit besonder belangrik. ’n Mooi reël kan sterf as die verkeerde lettergreep beklemtoon word.


Die vakman luister ook na die liedjie se punt van uitsig. Wie is aan die woord? Met wie praat die sanger? Bly die liedjie konsekwent, of spring dit onnodig tussen “ek”, “jy”, “hy” en “ons”? Soms kan ’n die breek van reëls werk, maar dan moet dit doelbewustelik wees.


Die vakman luister vir beelde. Is die liriek algemeen, of kan jy dit sien, ruik, voel en onthou. So asof jy as luisteraar dit middellik self beleef. Byvoorbeeld: “Ek is hartsgebroke omdat ons verhouding tot ’n einde is” sê eenvoudig net te min. Maar: “Ek tel die skerwe van my hart tussen jou laaste woorde op” tref diep.


Hy luister ook vir liedjie-argitektuur: hoe titel, vorm, rym, melodie, harmonie en emosionele spanning saamwerk. Sheila Davis en Jimmy Webb se skryfwerk oor liriese en musikale vakmanskap herinner ons dat ’n liedjie nie net uit mooi dele bestaan nie, maar uit dele wat in verhouding tot mekaar funksioneer. Die vraag is nie net of ’n reël mooi klink nie. Die vraag is of daardie reël die liedjie se groter beweging en emosionele wisselwerking, dien.

Die vakman hoor dus nie net die liedjie se verpakking nie. Hy hoor nie net die finale prentjie nie; hy hoor die keuses waarmee dit geskilder is.

5. Waarom luisteraars gehalte mis

Baie luisteraars mis nie die gehalte van 'n liedjie omdat hul dom is nie, maar omdat hulle nooit geleer is om daarvoor te luister nie. Ons luister dikwels passief na musiek. Musiek speel terwyl ons ry, kook, oefen of gesels. Dit word deel van die omgewing. Ons ontvang dit as atmosfeer, en nie as kuns nie.


Ongelukkig versterk algoritmes hierdie gewoonte. Hulle beloon onmiddellike aantreklikheid: iets wat vinnig aandag trek, vinnig herkenbaar is en vinnig herhaal kan word. Herhaling laat iets bekend voel, en bekendheid voel dikwels soos kwaliteit. Maar bekendheid is nie altyd gehalte nie. Soms word die populariteit van 'n liedjie bloot toegeskryf aan kondisionering by wyse van herhaling.


Nog ’n aspek wat gehalte inperk, is woordeskat. Baie mense voel iets terwyl hul na 'n liedjie luister, maar sukkel om daaraan uitdrukking te gee. Hulle sê: “Die liedjie is mooi,” maar bedoel dalk: “Die koortjie ontlaai die spanning presies waar ek dit vandag benodig.” Hulle sê: “Ek hou van die 'vibe'”, maar bedoel dalk: “Die ritme, stemkleur en harmoniese ruimte laat my verlang na mense wat ek nog moet ontmoet.”


Die probleem is nie dat mense niks voel nie. Die probleem is dat baie mense nie meer weet hoe om hul gevoelens te verwoord nie. Met ander woorde, hulle kort soms ’n elegante manier om uiting te gee aan ’n liedjie se emosionele trefkrag.

En wat vir die luisteraar 'n uitdaging is, is ook 'n uitdaging vir die liedjieskrywer, sienende dat al die liedjieskrywer vanuit luisteraars ontwikkel.

Die bewuste liedjieskrywer moet dus taal ontwikkel, as luisteraar vir luisteraars. Sonder taal bly oordeel vaag. Met taal word luister ’n instrument. Met ’n ryker woordeskat, verhef jy jou oor se palet.


6. KI en die nuwe toets vir luistergehalte

Die bogenoemde kwessies van kwalieit is nie deur KI geskep nie, maar KI het die kollig daarop gewerp.


KI-gegenereerde musiek kan vandag vinnig ’n oortuigende oppervlak skep: styl, instrumentasie, produksie, genre, energie en selfs emosionele nabootsing. Dit beteken nie dat alle KI-musiek noodwendig ’n gebrek aan inhoud het nie. Dit beteken ook nie dat mensgemaakte musiek outomaties vol gehalte en inhoud is nie. Dit beteken bloot dat die verpakking al hoe makliker professioneel kan klink.


Daarom raak luisteroordeel belangriker in die vloed van hedendaagse Afrikaanse musiek. As die rekenaar liedjies kan skep wat professioneel klink, moet die liedjieskrywer sy vermoë verhef en leer welke elemente struktureel, emosioneel en vakmatig werk. Die vraag is nie net: “Klink dit reg?” nie. Die vraag is: “Dra dit betekenis? Beweeg dit emosioneel? Is daar ’n kernidee? Dien die beelde die liedjie? Werk die prosodie? Het elke afdeling ’n doel?”


Navorsing oor KI-musiek wys juis dat subjektiewe luisterervaring, objektiewe musiekmaatstawwe en gekombineerde evaluering nie altyd maklik saamval nie. “Ek hou daarvan” is dus nie altyd genoeg om te sê of iets werklik goed gebou is nie.


Luisterpersepsie-navorsing wys ook dat mense “menslikheid” in musiek dikwels beskryf met woorde soos vloei, siel, egtheid, organiese gevoel, klein onvolmaakthede, unieke frasering en emosionele bedoeling. Dit is nie ’n eenvoudige formule nie, maar dit wys iets belangrik: luisteraars voel dikwels die verskil aan voordat hulle dit tegnies kan verduidelik.


KI maak dit makliker om ’n indrukwekkende oppervlak vir 'n liedjie te skep. Daarom moet die liedjieskrywer se oor skerper word en sy lirieke verdiep. Wanneer die verpakking makliker word om te verweek, word die oor se musiekpalet belangriker as ooit tevore.


7. Praktiese voorbeeld: oppervlakkig hoor teenoor vakman luister

Neem ’n denkbeeldige Afrikaanse klaaglied oor ’n ou huis wat verlate staan. ’n Oppervlakkige luisteraar sê dalk: “Die liedjie is mooi, want dit klink hartseer en die koor verwek ’n knop in my keel.”


Die Vakman vra dieper vrae. Waaraan word ek bekendgestel deur die eerste vers? Skets die liedjie ’n wêreld, of gee dit net algemene hartseer deur? ’n Reël soos “Ek mis die ou dae” is verstaanbaar, maar te algemeen. ’n Reël soos “Die kombuislig flikker nog geel oor Ma se leë broodbak” gee die emosie ’n plek, ’n kleur en ’n liggaam.


Wat doen die koortjie? Dra dit die waarheid van die liedjie, of herhaal dit net ’n gevoel? ’n Koortjie wat net sê “Ek verlang, ek verlang” kan emosioneel wees, maar dit kan ook maklik dun raak — soos die laaste heuningdruppels op ’n ontbytkorsie. ’n Sterker koortjie verhef die verlange en laat die betekenis deurbreek soos sonlig agter donker wolke.


Werk vers 2? Bou vers 2 die liedjie verder uit en verwys dit na ’n besondere ervaring, of herhaal dit net weer dat die spreker hartseer is? Indien vers 1 die huis skets, kan vers 2 dalk verwys na die herinneringe wat die spreker daar agtergelaat het. Só beweeg die liedjie van plek na verlies, van herinnering na betekenis.


Werk die prosodie? Val “kombuislig” natuurlik op die note, of word die woord gebreek waar Afrikaans se natuurlike ritme daarmee bots? Val die lettergrepe saam met die ritme, of word die woord teen sy eie natuurlike klem gesing? Hierdie manier van luister vernietig nie die gevoel nie. Dit wys hoe die gevoel gebou en gestig word.


8. Praktiese werkswinkel: luister soos ’n vakman

Hier is ’n eenvoudige oefening: luister eers vir plesier, en daarna luister as vakman. Kies een bekende liedjie wat jy goed ken. Dit kan Afrikaans, Engels, oud, modern, akoesties, elektronies of volksgegrond wees. Luister eers soos ’n gewone luisteraar. Moenie ontleed nie. Vra net: Hou ek hiervan? Wat voel ek? Waarheen neem die liedjie my?


Skryf jou eerste eerlike reaksie neer.


Luister daarna weer, hierdie keer soos ’n liedjieskrywer. Beantwoord hierdie vrae:

  1. Wat is die hoofidee van die liedjie?

  2. Waar is die hak?

  3. Wat is vers 1 se doel?

  4. Wat dra die koortjie?

  5. Neem vers 2 die liedjie vorentoe, of herhaal dit vers 1?

  6. Waar bou die spanning, en waar vind die ontlading plaas?

  7. Is daar ’n duidelike emosionele beweging?

  8. Werk die prosodie natuurlik?

  9. Is die beelde spesifiek of algemeen?

  10. Sou die liedjie nog werk as die produksie eenvoudiger was?


Vergelyk nou jou twee antwoorde. Oppervlakkige luister sê dalk: “Ek hou van hierdie liedjie, want dit klink lekker en die koortjie is groot.”


Die Vakman luister en sê: “Die koortjie werk omdat dit die kernidee duidelik dra, die melodie oopgaan waar die emosionele waarheid aankom, en vers 2 die konflik verdiep eerder as om vers 1 net te herhaal.”


Dit is nie minder emosioneel nie. Dit is dieper emosioneel, 'n avontuur subtiel gebou deur die liedjieskrywer.


9. Selfassessering

Toets jou eie luistervermoë met die volgende vrae:

  1. Kan ek onderskei tussen my persoonlike smaak en die liedjie se vakmanskap?

  2. Kan ek die hak benoem?

  3. Kan ek sê wat elke afdeling doen?

  4. Kan ek hoor waar die liedjie spanning bou en ontlaai?

  5. Kan ek verduidelik waarom die koortjie werk?

  6. Kan ek hoor of vers 2 die liedjie ontwikkel?

  7. Kan ek hoor of die prosodie natuurlik werk?

  8. Kan ek hoor of die produksie die liedjie dien of net verbloem?

  9. Kan ek een konkrete rede gee waarom ’n liedjie goed geskryf is?

As jy net kan sê “ek hou daarvan” of “ek hou nie daarvan nie”, luister jy nog hoofsaaklik as luisteraar. As jy kan sê waarom iets werk, begin jy luister as vakman.


10. Bronnota

Hierdie hoofstuk steun op ’n paar belangrike idees uit die liedjieskryf- en musiekevalueringsliteratuur.


Eerstens sluit die hoofstuk aan by Pat Pattison (Writing Better Lyrics The Essential Guide to Powerful Songwriting) se klem op kommunikasie, prosodie, punt van uitsig en die praktiese vraag: welke weergawe prikkel die luisteraar se emosies meer? Die doel van tegniek is nie om emosie te vervang nie, maar om emosie duideliker, sterker en eerliker oor te dra.


Tweedens sluit die hoofstuk aan by die praktiese liedjieskryfbenadering van American Songwriter, veral die beginsel dat elke afdeling van ’n liedjie ’n funksie het. Vers 1 stel op. Die koortjie dra die groot idee of emosie. Vers 2 neem die liedjie verder. Die brug moet ’n werklike doel hê.


Derdens ondersteun Sheila Davis se The Craft of Lyric Writing en Jimmy Webb se Tunesmith: Inside the Art of Songwriting die gebruik van die breër idee van professionele liedjie-argitektuur: titel, vorm, rym, melodie, harmonie, liriese fokus en die verhouding tussen dele. Hierdie bronne herinner ons dat liedjieskryf nie net inspirasie is nie, maar ook bestaan uit ordening, vorm, keuse en dissipline.


Vierdens sluit Paul Zollo se Songwriters on Songwriting aan by die menslike kant van die vakgebied: ervare liedjieskrywers luister nie net na die oppervlak van ’n liedjie nie; hulle hoor moontlikhede, foute, keuses, waarheid en bedoeling. Goeie liedjies ontstaan dikwels waar intuïsie en vakmanskap mekaar ontmoet.


Laastens gebruik die hoofstuk hedendaagse navorsing oor KI-musiek liggies om te wys dat musiekevaluering kompleks is. Subjektiewe voorkeur, objektiewe maatstawwe en emosionele doeltreffendheid val nie altyd presies saam nie. Daarom is “ek hou daarvan” nie altyd genoeg as maatstaf vir gehalte nie.


Die doel van hierdie bronne is nie om liedjieskryf akademies of swaar te maak nie. Die doel is om die liedjieskrywer se oor en kundigheid te verskerp. Hoe beter jy hoor, hoe beter kan jy skryf.


11. Leer om te hoor voordat jy beter kan skryf
Beter skryf begin by deeglike luister.

Die liedjieskrywer wat net vir plesier luister, bly afhanklik van gevoel. Gevoel is belangrik, maar gevoel alleen is nie genoeg nie. Die bewuste liedjieskrywer leer om te hoor waar betekenis gebou, gedra, verloor of verhef word.


Hy hoor wanneer ’n koortjie werklik oopgaan. Hy hoor wanneer ’n tweede vers lui is. Hy hoor wanneer ’n beeld spesifiek genoeg is om te bly. Hy hoor wanneer prosodie die taal breek. Hy hoor wanneer produksie die liedjie dien, en wanneer dit net rook en ligte is.


Die doel is nie om die vreugde van musiek dood te ontleed nie. Die doel is om meer te hoor, sodat jy beter kan skryf. Die bewuste liedjieskrywer luister nie net om vermaak te word nie. Hy luister om te leer waar betekenis gebou word. Die gereedskap het verander; die beginsels van goeie liedjieskryf nie.

Comments


Volg @Duquesnemusiek
vir Nuwe vrystellings!

  • Facebook
  • TikTok
  • Instagram
  • Youtube
  • Spotify
  • Apple Music

© 2026 by Duquesne Musiek Produksie.

bottom of page