

Teen die Storm - 12 Augustus 2026
Afrikaanse Folk Rock Liedjie

12 Augustus Beskikbaar op:
Hoofstuk 9
Toe ’n Seun Sy Perd Omdraai
Toe die storm op sy ergste woed, het Dirkie finaal gekies.
Sommige verhale word onthou vanweë groot veldslagoorwinnings, ’n merkwaardige daad van dapperheid wat die gety van ’n geveg keer, of ’n bevel wat teen alle verwagting ingaan. Die verhaal van Dirkie Uys is egter anders: dit is, in sy diepste wese, ’n verhaal van vader-en-seunliefde.
Dirkie het nie ’n kommando aangevoer of ’n lang militêre loopbaan gehad waaroor die annale van die Boeregeskiedenis gevul kon word nie. Hy was skaars vyftien jaar oud toe een besluit, geneem te midde van die verwarring en geweld van die Slag van Italeni op 11 April 1838, sy naam in die volksgeheue verewig het.
Sy vader, kommandant Piet Uys, was dodelik gewond. Die Voortrekkers het onder geweldige druk teruggeval, en Dirkie het die geleentheid gehad om saam met die ander te probeer ontsnap. Volgens die bekende oorlewering het hy egter teruggekyk, sy gewonde vader gesien en sy perd omgedraai. Aan hom word die woorde toegeskryf: “Ek sal saam met my vader sterf!”
Dit is uit daardie oomblik dat “Teen die Storm” gebore is. Nie bloot as ’n lied oor ’n geveg nie, maar as ’n verhaal oor vader en seun; oor trou wanneer selfbehoud die makliker weg is; en oor die vreemde manier waarop een daad soms langer voortleef as die mens wat dit verrig het.
Die Donker Maande van 1838
Om Dirkie Uys se verhaal te verstaan, moet ’n mens terugkeer na die eerste maande van 1838, toe die Voortrekkergemeenskap in Natal deur een ramp ná die ander getref is.
Op 6 Februarie is Piet Retief en sy geselskap by uMgungundlovu om die lewe gebring. Elf dae later, op 17 Februarie, is verspreide Voortrekkerlaers langs die Bloukrans- en Boesmansriviergebied aangeval. Mans, vroue en kinders was vermoor, en die verlies het diep deur families en trekgeselskappe gesny.
Die Groot Trek was immers nie ’n beweging van professionele leërs nie, maar van huishoudings: waens, vee, kinders, ouers, familiebande en klein gemeenskappe wat saam deur ’n onsekere wêreld beweeg het. Wanneer ’n laer aangeval is, was die verlies dus nie abstrak nie. Dit was persoonlik.
Die dood van Retief en die aanvalle by Bloukrans het daarom meer as ’n militêre probleem geskep. Dit het ’n krisis van leierskap, veiligheid en oorlewing geword. Gerrit Maritz was toenemend siek en kon nie self ’n militêre ekspedisie lei nie. Die taak het uiteindelik op twee ander prominente Voortrekkerleiers geval: Hendrik Potgieter en Petrus Lafras Uys, beter bekend as Piet Uys.
Die verhouding tussen die twee was egter nie eenvoudig nie. Nie een wou hom sonder meer aan die ander se bevel onderwerp nie. Die oplossing was dat hulle saam sou optrek, maar elkeen sy eie kommando sou lei.
Volgens Gerrit I. Haarhoff se herbeoordeling van die Slag van Italeni het die gesamentlike mag uit ongeveer 347 vegtende mans bestaan. Vir spoed en beweeglikheid is geen waens saamgeneem nie; voorraad en ekstra ammunisie is deur pakperde gedra.
Onder Piet Uys se manne was sy seun, Dirk Cornelis Uys. Dirkie is op 3 Maart 1823 gebore. Toe hy saam met sy vader Zoeloeland binnery, was hy skaars ’n maand vyftien.
Italeni: Die Slagveld Wat Reeds Gekies Was
Teen sonsopkoms op 11 April 1838 was die Voortrekkers naby uMgungundlovu. Voor hulle het Italeni gelê, ’n terrein wat die Zoeloe-aanvoerder Ndlela kaSompisi doelbewus vir die komende geveg gekies het.
Ndlela, bygestaan deur Nzobo kaSobadli, ook bekend as Dambuza, het die landskap gebruik om die volle omvang van sy mag vir die naderende Voortrekkers te verberg. Die veterane met hulle wit skilde was sigbaar, maar ander magte is agter rante, in laagtes en binne die natuurlike kontoere van die terrein versteek.
Die Voortrekkers kon dus sien dat daar ’n vyand voor hulle was. Wat hulle nie kon sien nie, was hoe groot daardie vyand werklik was. Hierin lê die kern van Ndlela se lokval. Die bekende Zoeloe-“buffelhorings”-formasie was daarop gerig om ’n teenstander vas te hou terwyl die vleuels, die horings van die formasie, rondom hom beweeg. Italeni het hom die terrein gebied waarop hierdie taktiek besonder doeltreffend toegepas kon word.
Potgieter was volgens die historiese getuienis ongemaklik met die ongelyke grond, dongas en klowe en het vermoed dat meer krygers daar versteek kon wees. Piet Uys was meer bereid om die geveg aan te knoop. Daardie verskil in temperament en oordeel sou swaar weeg.
Die Vlug Wat ’n Lokval Was
Uys en sy manne het aangeval. Hulle het tot naby aan die Zoeloelinies beweeg, afgestyg en gevuur. Die eerste salvo’s het swaar verliese veroorsaak en die wit skilde het begin terugval. Vir die Voortrekkers het dit gelyk asof die vyand vlug, en die ruiters het die wit skilde agternagesit.
Maar die vlug was ’n vernuftige skynvlug — ’n doelbewuste Zoeloe-lokmaneuver om die Voortrekkers verder die hinderlaag in te trek. Daardie beslissende oomblik word in “Teen die Storm” vasgevang:
"Dapper het Voortrekkers teen die Zoeloes geveg
en die vyand het gevlug
Die ruiters het braaf agterna gestorm
maar die vlug was ’n bitter klug.”
Die woord “klug” dra die bitter ironie van die gebeurtenis. Wat soos ’n suksesvolle aanval en ’n vlugtende vyand gelyk het, was die lokaas wat die ruiters verder die slagveld ingetrek het. Soos die Voortrekkers die terugtrekkende krygers gevolg het, het hulle samehang begin verbrokkel. Klein groepies het in verskillende rigtings beweeg en die moeilike terrein het hulle verder versprei.
Toe het die verborge Zoeloemagte begin toeslaan. Die geveg het binne minute van aanval na oorlewing verander. Die storm van Italeni was nie bloot die vyand nie; dit was die hele ervaring van die slagveld — geweerskote, perde, rook, geskreeu, dongas, klowe en die skielike besef dat die mag wat gevlug het, het nou van verskillende kante af begin toesak.
Die jagters het die gejaagdes geword. Later sou die ekspedisie juis om hierdie rede as die Vlugkommando bekendstaan. En tog vind ons binne hierdie gaos ’n merkwaardige patroon wat later die emosionele hart van Dirkie se verhaal sou vorm. Voordat Dirkie terugdraai het, het sy vader eers terug gedraai.
Piet Uys Draai Terug
Terwyl die Uys-kommando onder toenemende druk begin terugval, het Piet Uys verneem dat twee van sy manne, die Malan-broers, in ernstige moeilikheid verkeer. Hy het vrywilligers gevra om saam met hom terug te draa. Vyftien manne het hom gevolg. Dirkie was een van die vrywilligers.
Hierdie deel van die verhaal is belangrik, want Dirkie se latere daad gebeur nie in isolasie nie. Piet Uys self het eers teen die beweging van veiligheid ingery om ander manne in nood te probeer help. Uys en Jan Meyer het daarin geslaag om die Malans te bereik, maar die klein groepie moes daarna onder voortdurende aanval probeer terugval. Dit was gedurende hierdie beweging dat Uys dodelik gewond is.
Die ooggetuieverslae verskil oor die presiese ligging en aard van die wond. Sommige plaas dit by die dy of lies, ander by die heup of laer rug. Haarhoff voer aan dat op grond van die beskrywings van die geweldige bloeding, dat die besering waarskynlik ernstiger was en moontlik interne organe geraak het. Alhoewel daar nie vandag sekerheid heers oor die soort wond nie, kan daar wel met sekerheid aanvaar word dat Uys swaar gewond was en vinnig verswak het.
Piet het steeds probeer help. Jan Meyer se perd was buite aksie en Uys het hom, ondanks sy eie wond, op sy perd gehelp. Volgens latere getuienis was Meyer se klere met Uys se bloed bevlek.
Terwyl hul probeer vlug, het Uys herhaaldelik sy bewussyn verloor en dit het al duideliker geword dat Uys se toestand die ander manne wat hom help hul eie lewens in gevaar stel. Uiteindelik het Piet Uys hulle beveel om hom te los en hulleself te red. Dit is hier waar die historiese rekonstruksie en die beroemde oorlewering rondom Dirkie bymekaar kom.
Die Seun Wat Teruggekyk Het
Daar bestaan nie één onbetwiste, fotografies-presiese weergawe van Piet en Dirkie Uys se laaste oomblikke nie. W.G. Nel, Louis Nel, Schalk Burger en Boshof se weergawes verskil in geografiese en chronologiese besonderhede, en selfs die presiese plek waar vader en seun gesterf het, het later onderwerp van historiese debat geword. Dit is belangrik om hierdie onsekerheid te erken, want volksherinnering en geskiedskrywing is nie altyd dieselfde ding nie.
Maar deur die verskillende weergawes loop ’n verhaal wat diep in die Boereherinnering gevestig geraak het: Dirkie het van sy vader af wegbeweeg en die geleentheid gehad om saam met die terugtrekkende manne te probeer ontsnap. Toe het hy teruggekyk, sy vader gesien en besluit om terug te keer. Die bekende oorlewering vat daardie besluit in een sin saam: “Ek sal saam met my vader sterf!”
Of Dirkie daardie presiese woorde woord vir woord uitgespreek het, kan vandag nie met historiese sekerheid bewys word nie. Maar die kern van die verhaal rus nie uitsluitend op die formulering van die sin nie. Dit rus op die daad. Soos sy vader, het Dirkie sy perd omgedraai.
Die Perd Wat Omdraai
Vir “Teen die Storm” het hierdie enkele beeld uiteindelik belangriker geword as al die ander: nie die geweer, die assegaai, die grootte van die Zoeloemag of selfs die wond van Piet Uys nie, maar die perd wat omdraai.
Daarin lê die morele spanning van die hele verhaal. Terwyl die kommando weg van die gevaar af beweeg, kies Dirkie die teenoorgestelde rigting. Veiligheid lê voor hom; sy gewonde vader agter hom. Die fisiese beweging van die perd word die uitdrukking van ’n innerlike besluit. Daarom begin die koor nie met ’n oorwinningskreet nie, maar met ’n keuse: “Ek draai my perd teen die storm wat woed ek sal nie vlug van die stryd.”
Italeni was nie ’n Voortrekkeroorwinning nie. Die krag van Dirkie se verhaal lê juis daarin dat hy nie terugdraai omdat hy weet dat hy gaan oorwin nie. Hy draai terug terwyl die dag reeds besig is om verlore te gaan. Dit plaas sy daad binne ’n moeiliker begrip van moed. Moed is makliker om te bewonder wanneer die held uiteindelik oorwin en huis toe ry. Dit word iets anders wanneer daar geen belofte van oorwinning bestaan nie en die keuse self die enigste oorwinning is wat oorbly.
In die bekende vertelling van Dirkie se laaste weerstand word vertel dat hy drie Zoeloekrygers geskiet het voordat hy oorweldig is. Daardie oorlewering vind sy weg na die reël: “Drie skote breek deur die rook en die skyn.” Binne die lied is die drie skote meer as ’n telling.
Hulle werk amper soos ’n aftelling — drie kort onderbrekings in die storm terwyl die luisteraar reeds weet hoe die verhaal eindig. Die bedoeling is nie om van Dirkie ’n onoorwinlike jong kryger te maak nie. Sy kwesbaarheid is juis deel van die betekenis. Hy was vyftien, en hy het teruggegaan.
Vader en Seun
Daar is ’n merkwaardige simmetrie in die gebeure by Italeni. Piet Uys draai terug vir die Malan-broers; Dirkie Uys draai later terug vir sy vader. Hierin lê waarskynlik die diepste emosionele laag van “Teen die Storm”.
Op die oppervlak is dit ’n historiese oorlogslied. Onder die oppervlak is dit ’n verhaal oor verhouding, voorbeeld en navolging. Dirkie se daad staan nie heeltemal los van wat hy kort tevore by sy vader gesien het nie. Piet het sy eie veiligheid opsygeskuif om ander te probeer help.
Kort daarna word die seun met sy eie verskriklike keuse gekonfronteer. Die lied probeer nie Piet of Dirkie Uys as foutlose figure voorstel nie, en dit probeer ook nie elke militêre besluit by Italeni verdedig nie. Die geskiedenis is daarvoor te ingewikkeld. Maar binne daardie ingewikkelde geskiedenis staan ’n eenvoudige menslike patroon: die vader het teruggegaan vir ander; die seun het teruggegaan vir hom.
Nie Elke Held Dra die Jare van Tyd Nie
Die brug van “Teen die Storm” lui:
“Nie elke held dra die jare van tyd
nie elke naam word onthou.”
Hier lê een van die sentrale gedagtes van die lied. Dirkie was nie ’n generaal aan die einde van ’n lang militêre loopbaan nie. Hy het nie dekades gehad waarin ’n reputasie opgebou kon word nie. Sy historiese herinnering rus feitlik op een gebeurtenis. Min jare, een dag en een besluit — maar ’n naam wat gebly galm.
Daar is iets merkwaardigs aan die verhouding tussen tyd en herinnering. Sommige mense leef lank en verdwyn byna volkome uit die kollektiewe geheue. Ander leef kort, maar verrig iets wat hulle naam veel verder dra as wat hulle eie leeftyd ooit kon. Dirkie Uys behoort aan daardie tweede soort herinnering.
Tussen Geskiedenis en Oorlewering
Een van die gevare wanneer ’n historiese gebeurtenis deel van volksherinnering word, is dat die verhaal met verloop van tyd gepoets word as die bronne self verklaar. Italeni is ’n goeie voorbeeld.
Haarhoff se herbeoordeling van 2023 het die terrein, waterlope, dongas, rante, grafte en ooggetuieverslae opnuut langs mekaar probeer plaas. Hy het verskeie ouer aannames bevraagteken en ’n nuwe rekonstruksie van die geveg voorgestel. Die debat het egter nie daarmee geëindig nie.
Ian Uys het later aangedui dat hy en Paul Smith van Haarhoff verskil oor die presiese ligging van die hoofgeveg en onder meer na die ligging van grafte en ’n historiese kaart verwys. Hierdie verskille maak die geskiedenis nie minder waardevol nie. Inteendeel, dit wys hoe ernstige geskiedskrywing behoort te werk.
Ooggetuies onthou verskillend, terrein verander, waterlope groei toe en nuwe dokumente kan ou aannames bevraagteken. Die verantwoordelike benadering is daarom om te onderskei tussen wat goed bevestig is, wat waarskynlik is en wat deel van die latere oorlewering geword het.
“Teen die Storm” probeer dieselfde onderskeid eerbiedig. Dit is nie ’n argeologiese verslag of ’n woord-vir-woord kroniek van die geveg nie. Dit is ’n lied. Maar die lied staan op ’n herkenbare historiese fondament: die Zoeloelokval, die verbrokkeling van die Uys-kommando, Piet Uys se terugkeer om ander manne te help, sy dodelike verwonding, die terugtog en Dirkie se besluit om volgens die bekende oorlewering na sy vader terug te keer.
Die geskiedskrywer vra waar presies dit gebeur het, hoe die terrein gelyk het en watter getuie die gebeurtenis die betroubaarste onthou het. Die Skåld vra ’n ander vraag: wat beteken dit dat ’n vyftienjarige seun omgedraai het? Die twee vrae hoef nie teenoor mekaar te staan nie. Goeie historiese musiek behoort die eerste ernstig genoeg op te neem sodat die tweede met integriteit gevra kan word.
Die Nederlaag Wat Bly Leef Het
Die Slag van Italeni het minder as twee uur geduur. Tien Voortrekkers het gesterf, onder wie Piet en Dirkie Uys. Die oorlewende manne het uitgeput en geskok teruggetrek, en die volgende dag het Gert de Jager die laers bereik met die nuus van wat gebeur het.
Die onderneming het misluk. Een van die bekendste heldeverhale uit die Groot Trek is dus nie uit ’n groot oorwinning gebore nie. Dit kom uit ’n nederlaag — uit gebrekkige bevelsamewerking, moeilike terrein, ’n onderskatte teenstander en ’n goed beplande Zoeloelokval. En tog is dit dikwels binne sulke oomblikke dat individuele karakter die duidelikste sigbaar word.
’n Volk onthou nie net waar hy gewen het nie; hy onthou ook wie mense was toe die dag verlore was. Dirkie se verhaal het daarom nie by Italeni geëindig nie. Sy naam het deur geskiedskrywing, familieherinnering, skole, straatname en monumente bly voortleef. In die Voortrekkermonument in Pretoria is die bekende toneel van Piet en Dirkie Uys in die historiese marmerfries opgeneem. Met verloop van tyd het die seun ’n simbool geword. Maar elke simbool loop uiteindelik dieselfde gevaar: mense ken later die naam sonder om die verhaal daaragter te ken. Hulle ry deur ’n Dirkie Uysstraat, hoor van ’n skool wat sy naam dra of sien ’n figuur in ’n monument, maar die mens agter die naam begin stadig verdwyn tot dit deur 'n vyandiggesinde politieke bestel uit gevee word.
Dit is een van die redes waarom historiese liedere steeds ’n plek het. ’n Lied kan nie ’n geskiedenisboek vervang nie. Maar musiek kan iets doen wat ’n datum of voetnota soms nie kan nie: dit kan die afstand tussen verlede en hede vir enkele minute verklein. Dit kan weer ’n perd laat gallop, ’n geweerskoot laat knal, ’n vader laat val en ’n seun laat terugkyk.
Die Storm van Tyd
Hierin lê die tweede betekenis van die titel. Die eerste storm is Italeni. Die tweede is vergetelheid. Byna twee eeue skei ons vandag van Dirkie Uys. Die landskap het verander. Waterlope het toegegroei. Die presiese ligging van sekere gebeure word steeds bespreek. Die mense wat daar was, is lankal dood. Dit is die verweer van tyd. Dit maak skerp rande sag, verdof name en verander gebeure in datums, datums in voetnote en voetnote uiteindelik in stilte.
Daarom lui een van die reëls van die lied: “’n verhaal verskans teen tyd.” Dirkie kon nie die uitslag van Italeni verander nie, maar sy daad het die dag oorleef. Dit het van mondelinge herinnering na geskrewe geskiedenis beweeg, van geskiedenis na monument en nou weer van geskiedenis na lied. Teen daardie tweede storm probeer “Teen die Storm” iets laat staan. Nie ’n onaantasbare mite nie, maar ’n herinnering.
Die Musikale Wêreld van “Teen die Storm”
Omdat Italeni in ’n nederlaag geëindig het, kon “Teen die Storm” nie soos ’n eenvoudige triomfantelike oorlogslied klink nie. Die musiek moes gewig dra sonder om bombasties te word. Dit moes beweeg sonder om te jaag en spanning skep sonder om die tragedie in ’n oorwinningsmars te verander.
Die musikale wêreld van die lied is daarom donker, sinematies en gereserveerd. ’n Diep trompols beweeg daaronder soos ’n hartklop. Die akoestiese kitaar dra die ritme met ’n natuurlike, perkusiewe aanslag, terwyl die bas warm en laag bly. Elektriese kitaar word spaarsamig gebruik — meer as atmosfeer en skaduwee as vertoon. Die verse bly intiem en die stem vertel eerder as verkondig. Die voorkore trek die spanning stywer en die kore word wyer, maar nooit eenvoudig triomfantelik nie.
Die luisteraar weet immers waarheen die verhaal beweeg. Daar is geen finale militêre oorwinning wat die tragedie kanselleer nie. Daar is net die laaste keuse: “Want bloed roep uit, en bly getrou Ek sal saam met my vaders sterf!”
Waarom Dirkie Uys Steeds Saak Maak
“Teen die Storm” probeer nie van Italeni iets maak wat dit nie was nie, en dit probeer ook nie ’n volledige militêre geskiedenis binne enkele minute saamsmelt nie. ’n Lied werk anders: ure word minute, afstand word beeld en verskillende getuienisse word deur poëtiese kompressie tot ’n enkele dramatiese prosodiese beweging saamgetrek. Die doel is nie om geskiedenis te vervang nie, maar om die luisteraar daarheen terug te stuur. Want agter die bekende naam Dirkie Uys was ’n werklike seun. Agter die marmerfiguur was ’n mens. Agter die oorlewering was ’n besluit.
Daar is iets ongemakliks aan die verhaal van ’n vyftienjarige wat op ’n slagveld sterf, en daar behoort te wees. Om sy dood bloot te romantiseer, sou die verhaal verklein. Dirkie se heldedaad lê nie daarin dat sy dood op sigself iets mooi was nie. Dit lê in die keuse wat hy binne ’n verskriklike werklikheid gemaak het. Die geveg was reeds aan die gang. Sy vader was reeds dodelik gewond. Die kommando was reeds besig om terug te val. Dirkie het nie daardie omstandighede geskep nie; hy moes binne daardie omstandighede 'n keuse maak.
Die meeste van ons sal nooit op ’n perd by Italeni sit nie. Maar die beginsel daaragter is nie vreemd nie. Daar kom oomblikke waarin lojaliteit iets kos, waarin plig nie gemaklik is nie en waarin liefde meer vra as sentiment. Daar kom oomblikke waarin karakter bepaal word deur die rigting waarin ’n mens beweeg wanneer die maklikste rigting die ander kant toe loop. Dit is waarom Dirkie se verhaal groter geword het as die enkele dag waarop dit afgespeel het.
Slot
“Teen die Storm” is Duquesne se Afrikaanse historiese folk-rockballade oor Dirkie Uys, Piet Uys en die Slag van Italeni op 11 April 1838. Maar onder die gewere, perde, assegaaie en rook lê ’n eenvoudiger verhaal: ’n vader wat dodelik gewond is, sy seun het die moontlikheid om te vlug, maar sy seun draai ten die storm. Die historikus mag steeds vra waar presies dit gebeur het, hoe die laaste minute verloop het en watter getuienis die beste by die terrein pas. Daardie vrae is belangrik en behoort gevra te word.
Maar miskien verklaar hulle nie heeltemal waarom die naam Dirkie Uys steeds onthou moet word nie. Daarvoor moet ’n mens terugkeer na die eenvoudige beweging waarop die hele verhaal rus: die kommando beweeg weg van die gevaar, maar ’n vyftienjarige seun kies die ander rigting.
Hy draai sy perd om. Sommige helde word onthou omdat hulle gewen het. Ander omdat hulle lank genoeg geleef het om groot dinge te verrig. En soms is een enkele besluit genoeg. Toe die storm op sy ergste gewoed het, het Dirkie Uys gekies waar hy sou staan.
En soos Dirkie, is die Boer se verhaal, soos sy verlede is steeds nie verby nie.
Bron
-
Die historiese herinneringe van onder andere W.G. Nel, Schalk Willem Burger, M.J. Oosthuizen, J.H. Steenkamp en ander deelnemers aan die gebeure, soos opgeneem en bespreek in die historiese literatuur oor die Slag van Italeni.
Teen die Storm Lirieke
[Eerste Versie]
Op Italeni se harde grond staan hy stil
’n seun met oë van vuur.
Die perde ruk en die manne roep luid
en vrees lê swaar in die uur.
Dapper het Voortrekkers teen die Zoeloes geveg
en die vyand het gevlug
Die ruiters het braaf agterna gestorm
maar die vlug was ’n bitter klug.
[Voorkoortjies]
Die skote klap teen die kranse se rand
die vyand ontwaak uit die veld
Piet val swaar gewond in die sand
en krygsklank ontplof in geweld
[Koortjie]
Ek draai my perd teen die storm wat woed
ek sal nie vlug van die stryd.
Want ’n seun staan vas waar sy vader stry
’n verhaal verskans teen tyd.
Ek staan my grond tot die laaste pols
ek wyk nie, al roep die dood my naam.
Want eer lê vas wat geen storm stuit
as ’n seun langs sy vader staan.
[Tweede Versie]
Die kloof het gesluit soos ’n graf om hul kring
die skadu’s beweeg om hul heen.
Hy hoor nog die roep wat deur jare sal sing
’n legende in tyd self versteen.
Drie skote breek deur die rook en die skyn
die perde se asem slaan koud.
Hy sien hoe die dood om sy vader wil draai
maar liefde hou sterker as goud.
[Voorkoortjie]
Eerbaar en sterk, ’n Boer in sy murg
gebore in vuur en bloed!
Het Dirkie te perd na sy vader gejaag
dapperheid soos son se gloed!
[Koortjie]
Ek draai my perd teen die storm wat woed
ek sal nie vlug van die stryd.
Want ’n seun staan vas waar sy vader stry
’n verhaal verskans teen tyd.
Ek staan my grond tot die laaste pols
ek wyk nie, al roep die dood my naam.
Want eer lê vas wat geen storm stuit
as ’n seun langs sy vader staan.
[Brug]
Nie elke held dra die jare van tyd
nie elke naam word onthou.
Maar waar ’n kind kies om te val in stryd
staan ewig tot vader se trou!
[Koortjie]
Ek draai my perd teen die storm wat woed
ek sal nie vlug van die stryd.
Want ’n seun staan vas waar sy vader stry
’n verhaal verskans teen tyd.
Ek staan op grond deur bloed gekoop
met dapperheid en deug gekerf!
Want bloed roep uit, en bly getrou
“Ek sal saam met my vaders sterf!”

'n Smit van Noot en Letter.
Wie is Duquesne?
Duquesne is ’n anonieme Afrikaanse kunstenaar wat beide klassieke en moderne musiekinstrumente gebruik om geskiedenis te laat weerklink. Nie net liedjies nie—maar klank-verhale. Met ’n styl wat sinematies klanke, rou lirieke en historiese bewustheid kombineer, neem elke vrystelling die luisteraar na spesifieke gebeurtenisse in ons Volks se geskiedenis.
DIE MISSIE
Om Afrikaanse geskiedenis en identiteit deur musiek te bewaar, te eer en weer te laat weerklink—nie as nostalgie nie, maar as lewende herinnering.
