top of page
db4be12d-92dd-49db-a19e-4051b76de2cb-2026-04-23.png
nuWE enkelsnit.png

Par-delà la mer - 28 Augustus 2026

Afrikaanse kontemporêr / Sinematiese Folk Lied

10 - 20260514_Duquesne Par-Dela-la-Mer Voorblad.png

28 Augustus Beskikbaar op:

Hoofstuk 10

Par-delà la mer — Saad Oor See

Wat in die nag gesaai is, sou anderkant die see wortelskiet.

Daar is verhale wat met geskal begin. Die verhaal van die Franse Hugenote begin egter stiller — by gebed, gewete en ’n Gereformeerde geloof wat deur tragedie heen na hoop sou beweeg. Lank voordat Franse familiename langs die Bergrivier gevestig geraak het, voordat La Motte en Cabrière deel van die Kaapse landskap geword het en voordat die Hugenotemonument tussen die berge van Franschhoek sou verrys, was daar ’n ander Frankryk: ’n land waarin geloof, kroon en politieke mag so nou verweef was dat ’n mens se gewete uiteindelik sy huis, sy eiendom, sy taal en soms selfs sy lewe kon kos.

Par-delà la mer is oorspronklik geskryf as die slotlied van Duquesne se gelyknamige Afrikaanse blyspel oor die Hugenote wat uit Frankryk vlug en aan die Kaap ’n nuwe bestaan begin. Die lied dra ook iets van die morele wêreld van Victor Hugo se Les Misérables uit 1862: nie deur Jean Valjean se verhaal bloot na ’n ander eeu te verskuif nie, maar deur dieselfde groter vrae oor vervolging, verlies, genade en herstel te vra. Wat bly oor van ’n mens wanneer die wêreld waarin hy geleef het van hom weggeneem word? En kan ’n nuwe lewe wortelskiet nadat die oue verwoes is?

Die geskiedenis waaroor die lied handel, strek oor meer as ’n eeu. Bartolomeusnag in 1572 en die groot Hugenotevlug wat ná die herroeping van die Edik van Nantes in 1685 gevolg het, behoort nie aan dieselfde geslag nie. Par-delà la mer trek hierdie geskiedenis doelbewus nader aan mekaar en laat verskillende geslagte se vervolging, Psalmgesang, weerstand, ballingskap en hervestiging soos een lang herinnering deur die lied beweeg.

Deur alles loop een beeld: saad.

“Wat in die nag gesaai is klein,
sal groei waar U dit plant.”

Die Nag Toe die Klok Begin Lui

Die verhaal open nie in Franschhoek nie, maar in Parys:

“Toe die tocsin oor die Seine huil,
by Saint-Germein se donker muur…”

’n Tocsin was nie ’n klok wat bloot die uur aangekondig het nie. 'n Tocsin is ’n alarmsein waarmee ’n stad teen brand, aanval, oproer of ander onmiddellike gevaar gewaarsku kon word. In die vroeë oggendure van 24 Augustus 1572 het die tocsin van Saint-Germain-l’Auxerrois, die kerk naby die Louvre, begin lui. Philippe Erlanger plaas die gegalm omstreeks vieruur die oggend en vertel hoe dit Hugenote, wat oorkant die Seine in die Faubourg Saint-Germain gebly het, skielik wakkergeruk was. Volgens een oorlewering het ’n brandwag selfs die Seine oorgesteek om die Hugenote teen die naderende gevaar te waarsku.

Die verkorte Saint-Germein verwysing in die lirieke verwys dus na ’n baie bepaalde historiese plek, en die Seine is eweneens meer as Paryse landskapskleur. Die rivier loop deur die hart van hierdie tragedie. Daardie oggend het dit die twee oewers van ’n stad geskei waarin jare se godsdienstige spanning uiteindelik in geweld losgebars het.

Frankryk was sedert 1562 deur ’n reeks godsdiensoorloë geteister. Katolieke en Gereformeerdes het nie slegs oor leerstellings verskil nie; in die sestiende-eeuse wêreld was geloof, openbare orde en politieke lojaliteit byna onlosmaaklik verweef. Om die verkeerde geloof aan te hang, kon daarom in die oë van ’n teenstander veel meer beteken as om bloot te dwaal — dit kon lyk soos bedreiging, opstand of verraad.

In Augustus 1572 het talle prominente Hugenote na Parys gekom vir die huwelik tussen die Protestantse Hendrik van Navarra en Marguerite de Valois, suster van die Katolieke koning Karel IX. Die huwelik moes versoening simboliseer, maar het terselfdertyd baie Hugenoteleiers binne een stad saamgetrek. Op 22 Augustus is admiraal Gaspard de Coligny, waarna die dorp Coligny in die Wes-Transvaal vernoem is, in ’n sluipmoordpoging gewond. Twee dae later is hy vermoor, waarna die aanval op Hugenoteleiers oorgegaan het in wydverspreide geweld teen Protestante. Diefendorf skat dat ongeveer twee- tot drieduisend mense in Parys vermoor was voordat die slagtings ook na ander Franse stede versprei het.

Uit hierdie wêreld kom die reël:

“’n Psalm gebore uit bloed en vuur.”

Bartolomeusnag was nie die begin van Franse Protestantisme nie, maar dit het een van die groot wonde van die Hugenotegeheue geword. Die klok van Saint-Germain het lankal stil geword; die herinnering aan wat daarop gevolg het, nie.

Psalms, Tempels en Genève

Die Hugenote was in ’n besondere sin ’n singende geloofsgemeenskap. Die Psalms, in Franse metriese vorm vertaal en deur gemeentes gesing, het ’n kenmerkende deel van Gereformeerde aanbidding geword. Clément Marot se Franse Psalmvertalings het wyd versprei, en openbare Psalmgesang het selfs vóór Bartolomeusnag ’n herkenbare uitdrukking van Protestantse identiteit geword.

Daarom beweeg die tweede vers van verwoesting na Genève:

“Toe tempels tot stof geslaan is stil,
het Genève nog Psalms laat galm.”

Die woord tempel is doelbewus. In die konfessionele taal van Frankryk het temple die kenmerkende benaming geword vir ’n Protestantse plek van aanbidding, terwyl église sterk met die Katolieke kerkgebou verbind was en terselfdertyd ook die breër begrip van “Kerk” of gemeente kon dra. Die woord het dus deel geword van die taalgrens tussen twee geloofswêrelde. Wanneer Par-delà la mer van tempels praat wat tot stof geslaan word, praat dit nie van heidense heiligdomme nie, maar van die aanbiddingsplekke van die Franse Gereformeerdes.

Genève was ewe doelbewus gekies. Johannes Calvyn, self ’n Fransman wat sy vaderland verlaat het, het daar ’n Reformatoriese sentrum help vestig waarvan die invloed terug oor die Franse grens gestrek het. Predikante is daar opgelei, boeke is versprei en Franse Gereformeerde gemeentes het sterk deur die Geneefse model beïnvloed geraak. Diefendorf beskryf hoe predikante uit Genève terug Frankryk toe gestuur is en hoe Gereformeerde boeke oor die grens versprei het.

Die lied se volgende beeld, “soos hert wat dors is by ’n droë fontein”, roep Psalm 42 op en bring daarmee die geestelike wêreld van die Hugenote terug na sy eenvoudigste vorm. ’n Tempel kon afgebreek, ’n kansel stilgemaak en ’n boek verbied word, maar ’n Psalm was moeiliker om te vernietig. Hy kon uit die gebou verdryf word en steeds in die geheue en stem van ’n mens voortleef.

La Rochelle — Die Stad Wat Nie Wou Buig Nie

As Genève ’n geestelike sentrum van Franssprekende Calvinisme geword het, was La Rochelle een van die groot vestings van die Hugenote. Die Atlantiese hawestad het gedurende die Franse Godsdiensoorloë sterk Gereformeerd geword en ontwikkel tot ’n toevlugsoord en politieke steunpunt.

Bartolomeusnag het oorlewende Hugenoteleiers daarheen beweeg, en La Rochelle het geweier om eenvoudig voor die kroon te buig. Karel IX se poging om die stad weer onder beheer te bring, het die vierde Godsdiensoorlog ontketen. Die stad het beleëring, hongersnood en siekte verduur, maar sy betekenis as simbool van Hugenoteweerstand het die enkele beleg oorleef. Later, in 1627–1628, sou Richelieu se groot beleg van La Rochelle die Hugenote se onafhanklike politieke en militêre mag grootliks beëindig.

Daarom dra die reëls “La Rochelle het in skadu gestaan, angs en gebede het deur die nag bly duur” meer as ’n geografiese verwysing. La Rochelle word ’n beeld van ’n geloofsgemeenskap wat probeer vasstaan terwyl die ruimte waarin dit mag bestaan al kleiner word.

Nie vir die Kroon of die Swaard Nie

Die voorkoor trek die geskiedenis terug na die morele hart van die lied:

“Ni pour la couronne, ni pour l’épée,
mais pour rester chrétien.
Nie vir troon of wêreldse eer nie,
maar om as Protestant U Naam te dien.”

Die Franse Godsdiensoorloë was nooit bloot ’n eenvoudige verhaal van geloof teen politieke mag nie. Adellike mededinging, dinastiese belange, buitelandse alliansies en godsdienstige oortuiging het voortdurend in mekaar gevloei. Diefendorf beklemtoon juis hoe vreemd die moderne skeiding tussen “godsdiens” en “politiek” aan die wêreld van die sestiende eeu sou wees.

Maar onder hierdie ingewikkelde geskiedenis het daar ’n eenvoudiger vraag gelê: wat doen ’n mens wanneer gehoorsaamheid aan die staat en gehoorsaamheid aan jou gewete nie meer in dieselfde rigting vloei nie?

Die konflik het ná Bartolomeusnag nog dekades voortgeduur totdat Hendrik IV in 1598 die Edik van Nantes uitgevaardig het. Dit het nie moderne godsdiensgelykheid geskep nie, maar wel ’n mate van beskerming en beperkte ruimte vir Protestantse aanbidding. In die volgende eeu is daardie ruimte stadig verklein, totdat Lodewyk XIV die Edik in 1685 (Révocation de l'édit de Nantes) herroep het. Die nuwe druk het ’n groot Protestantse diaspora versnel, met Hugenote wat na onder meer Switserland, die Duitse gebiede, Engeland en die Nederlande gevlug het.

Teen hierdie agtergrond kry die koor sy volle betekenis:

“Ons dra nie goud of land nie,
ons dra U Woord oor see.
Geen kroon rus in ons hande nie,
net wat U aan ons gee.”

Die Hugenote vlugtelinge kon nie hul vaderland saamneem nie. Hulle kon wel ’n Bybel, ’n Psalm, ’n familienaam, ’n ambag en die herinneringe van Frankryk saamneem.

Amsterdam en die Pad na die Kaap

Die Nederlandse Republiek het een van die belangrikste toevlugsoorde vir Franse Protestante geword. Ook dit het ’n langer voorgeskiedenis. Die Nederlande het self ’n uitgerekte stryd teen die Spaanse kroon gevoer, waarin Willem van Oranje die groot politieke figuur van die opstand geword het en die Watergeuse op see teen Spaanse mag opgetree het. Die Watergeuse het nie die latere Kaapse Hugenote vervoer nie — hulle behoort aan ’n vroeër geslag — maar hulle help om die Protestantse politieke wêreld te verklaar waarin die Nederlandse Republiek ontstaan het.

Teen die 1680’s was Holland ’n gevestigde toevlugsoord vir baie Hugenote. Vanuit hierdie Nederlandse wêreld het ’n kleiner groep Hugenote nog verder beweeg. Ná die herroeping van die Edik van Nantes het die Here XVII van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, Franse vlugtelinge van die Gereformeerde geloof by die emigrante ingesluit wat na die Kaap gestuur kon word. Die Kompanjie wou die landboubevolking versterk, en Simon van der Stel het spesifiek gehoop op mense met kennis van wingerde, wyn- en brandewynvervaardiging en olyfbou.

Die plan was prakties, maar vir die mense wat dit aanvaar het, was die besluit veel groter. Europa sou nie net deur ’n landsgrens agtergelaat word nie. Daar sou ’n hele oseaan tussen hulle en die wêreld van hul geboorte wees.

Par-delà la mer

Par-delà la mer beteken eenvoudig anderkant die see, maar die werklike seereis was allesbehalwe eenvoudig.

’n Reis na die Kaap kon maande duur. Die skepe was klein, vars voedsel en drinkwater beperk en siekte ’n voortdurende bedreiging. Skeurbuik, storms, brand, stranding en die gevaar van seerowers of vyandelike skepe het deel van die reis gevorm. Botha beskryf hoe water gerantsoeneer is en hoe ’n reis wat vandag in dae gemeet word destyds vier tot ses maande kon duur.

Die Berg China het in 1688 met vier-en-dertig Franse vlugtelinge uit Rotterdam vertrek; dertig mense op die skip het onderweg gesterf, waarvan volgens Botha ’n groot deel Franse vlugtelinge was. Die Schelde het storms deurstaan, terwyl ander skepe siekte en sterftes beleef het voordat Tafelbaai uiteindelik bereik is.

Die brug van die lied: "Van La Rochelle tot Amsterdam, deur sout en storm oor donker see…” is daarom nie bloot ’n reeks mooi plekname nie. Dit beskryf die beweging van ’n verlore bekende wêreld na ’n onbekende nuwe een. Agter die skip lê Frankryk; voor hom lê nog net die moontlikheid van ’n tuiste.

Teen die Bergrivier

Toe die Franse vlugtelinge aan die Kaap aankom, het hulle nie voorbereide landgoedere geërf nie. Baie het min besittings gehad en moes met grond, gereedskap, vee, krediet en hulp ’n bestaan begin opbou. Botha beskryf hoe hulle na die Drakensteinvallei vervoer is, waar plase langs die Bergrivier uitgemeet is en die Franse doelbewus tussen bestaande Nederlandse setlaars versprei is.

Hier bereik die saadbeeld die grond waarvoor die hele lied gewag het:

“het U ons soos saad laat skiet,
By Drakenstein is ons gegiet.
Teen Bergrivier se sagte rand
het U ons geplant in vreemde land.”

Die Hugenote het nie wynbou aan die Kaap gevestig nie; wingerde was reeds daar gevestig deur die Kompanjie. Die Hugenote het egter betekenisvolle kennis van vitikultuur, wyn- en brandewynvervaardiging en ander landbouvaardighede gebring, presies die soort kundigheid waarna die Kompanjie gesoek het. Botha beskou hul kennis van wingerdbou as ’n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die Kaapse landbou.

Daarmee kry die saadmetafoor ’n dubbele betekenis. Dit wat oor die see gedra was, is geloof, identiteit en herinnering; maar die mense wat dit dra, moet nou ook letterlik grond oopbreek, plant en wag vir die seëning van vrug.

La Motte en Cabrière — Name Wat die See Oorleef Het

Een van die treffendste spore van die Hugenote lê vandag nie agter glas in ’n museum nie, maar op padtekens, wynetikette, plaashekke en familiename.

“La Motte onder Paarl se klip,
Cabrière in rooigrond stil —
nie as heersers oor ’n skip,
maar as dienaars van U wil.”

Die Franse setlaars het verskeie plase name gegee wat hul land van geboorte onthou het: Dauphiné, La Cotte, Cabrière, La Motte, Champagne, Rhône en Languedoc tel onder die name wat Botha opteken. Cabrière is in 1694 aan Pierre Jourdan toegeken, en die Franse plase was versprei deur Drakenstein, Franschhoek, Groot Drakenstein, Dal Josafat en die Paarl-omgewing.

Vandag ken baie Suid-Afrikaners La Motte en Haute Cabrière eerstens as bekende name uit Franschhoek se wynwêreld. Juis daarom hul gepaste deelname tot die lirieke. ’n Naam wat eens aan ’n nuwe stuk grond gegee is om ’n wêreld aan die ander kant van die see te onthou, het die mense wat dit so gedoop, steeds hul herinnering laat voortleef.

Protestante-Frankryk kon nie hervestig word nie. Maar die Hugenote het die eerste hoofstukke in donker Afrika begin van 'n kultuur suid van Kus.

Van Franse Vlugteling tot Boer

Die Hugenote het hul geloof en hul taal saam na die Kaap gebring, maar die Franse taal sou nie lank as ’n afsonderlike gemeenskapstaal voortbestaan nie. Die Kompanjie het die Franse doelbewus tussen die Nederlandse bevolking versprei, en teen 1701 is Nederlands uitdruklik in kerk en skool bevorder met die bedoeling dat Frans mettertyd in onbruik verval het. Botha beskryf hoe die aanvanklike weerstand teen hierdie vermenging uiteindelik plek gemaak het vir ondertrouery en geleidelike samesmelting.

Die Franse element het egter nie verdwyn nie; dit het deel geword van iets groters. Die kultuur waaruit die Boer later sou groei, het op sy Europese vlak juis ontstaan uit die samesmelting van hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse gemeenskappe aan die Kaap — mense wat hul geloof, taal, ambagte, herinneringe en gebruike saamgebring het. Uit Vuur en Bloed, verlies en volharding, is oor geslagte heen in Suid-Afrikaanse omstandighede ’n nuwe volksidentiteit gesmee: nie meer bloot Nederlands, Duits of Frans nie, maar ’n eie kultuur waarin die sterkste elemente van hierdie Europese erfenisse saamgevloei en nuwe wortel geskiet het. Die Hugenoot het nie vir altyd ’n Fransman in Afrika gebly nie, net soos die Nederlander nie bloot ’n Nederlander en die Duitser nie bloot ’n Duitser gebly het nie. Hulle kinders het toenemend aan dieselfde grond, geloofswêreld, taalontwikkeling en gemeenskap behoort — aan die rooigrond waaruit die Boer uiteindelik sy eie ontstaan sou kerf.

Hier vind die saadbeeld sy diepste betekenis. Die wilde-olyf dra later ’n ander naam, maar die wese van sy saad is nie uitgewis nie. Dit leef voort in die Gereformeerde geloofstradisie, familiename, plaasname, landboukennis, herinneringe en karaktertrekke wat saam met ander Europese erfenisse in die nuwe kultuur opgeneem is. De Villiers, Du Toit, Malan, Joubert, Marais, Le Roux, Malherbe, Fourie, Jordaan en talle ander name het deel geword van ’n volk wat nie meer Frans was nie, maar waarin die Franse-Hugenoot wortel steeds herkenbaar gebly het.

Die naam van die plant het verander. Die lewe wat uit die saad gekom het, is dieselfde.

Die Monument en die Lied

Dit is waarom die Hugenotemonument in Franschhoek die natuurlike beeld vir die voorblad van Par-delà la mer geword het. Die lied se beweging eindig nie by die trane van Bartolomeusnag nie. Die lied eindig nie by La Rochelle of selfs op die planke van ’n skip nie. Dit beweeg verder as ou Europa, totdat dit tussen die hange van Drakenstein gesaai is.

Die monument staan vandag binne dieselfde landskap waar die herinnering aan die Hugenote in familiename, plase en wingerde bly voortleef. Dit verteenwoordig dus meer as ’n vervolging wat oorleef is. Dit verteenwoordig ook wat daarna gevolg het: vestiging, arbeid, samesmelting en voortbestaan.

Die musikale wêreld van Par-delà la mer is uit dieselfde spanning gebou. Die lied probeer nie sestiende-eeuse musiek kunsmatig naboots nie, maar behou iets van die nugeter Protestantse Psalmtradisie binne ’n moderne, sinematiese folkklank. Die Franse frases dien nie bloot as 'n versiersel nie. Dit laat die taal van oorsprong vir enkele oomblikke deur die Afrikaans weergalm — ’n taal wat aan die Kaap sou verdwyn, maar waarvan die mense nie sou verdwyn het nie.

Die koor vat die hele reis saam:

“Ons dra nie goud of land nie,
ons dra U Woord oor see.”

En wanneer die sinematiese instrumentale beweging uiteindelik bedaar, skemer die ou Frans weer na vore — soos die Hugenote-erfenis self, wat ondanks eeue van verandering steeds in die geloofsoortuiging van die moderne Boer herkenbaar bly:

“Notre refuge — par-delà la mer.
Tu fus refuge — par-delà la mer.”

Wat in Ballingskap Gesaai Is

Die Hugenoteverhaal word maklik geromantiseer wanneer ’n mens dit eeue later tussen die wingerde van Franschhoek stap. Vir die mense wat moes vlug, was ballingskap egter allesbehalwe romanties. Agter die diaspora lê godsdiensoorlog, vervolging, verlore eiendom, geskeurde families en die onsekerheid van mense wat nie geweet het of die volgende grens, hawe of skip hul redding of hul einde sou bring nie. Aan die ander kant van die see het daar ook nie ’n voltooide bestaan op hulle gewag nie, maar onbewerkte grond, eenvoudige wonings wat nog opgerig moes word en ’n gemeenskap wat van voor af gevorm moes word. En dit alles moes beskerm word teen die elemente, roofdiere, barbare en die gevare van ’n harde en nog grotendeels ongetemde grensland.

Dit is juis daarom dat Par-delà la mer nie uiteindelik ’n lied oor verlies is nie. Die lied handel oor die diep Protestante hantering van verlies en die verantwoordelikheid teenoor die Allerhoogste om te herbou. ’n Vlugteling word weer ’n landbouer; ’n vreemde vallei word ’n tuiste; kinders word gebore wat later nie meer hul grootouers se taal praat nie; en ’n plaas kry die naam van ’n plek wat duisende kilometers weg lê. Wat een geslag as herinnering saamgedra het, word met verloop van tyd deel van ’n nuwe erfenis.

Daarom verander die koor in die laaste herhaling:

“Wat in ballingskap gesaai is klein,
staan nou getrou in Drakenstein.”

Wanneer die Tocsin Weer Klink

Byna vyf eeue skei die Boer van die nag toe die tocsin oor die Seine gelui het, en die geskiedenis herhaal hom nooit presies nie. Tog behoort iets in die Hugenoteverhaal vir die moderne Boer bekend te klink. Ook hy leef in ’n tyd waarin vrae oor veiligheid, ekonomiese deelname, kulturele voortbestaan en selfbeskikking toenemend dringend geword het; waarin sy monumente betwis, sy geskiedenis herskryf of gesaniteer en die betekenis van sy herkoms soms uit die openbare geheue verdryf word. Waar so ’n proses doelbewus daarop gerig is om ’n volk van sy taal, geskiedenis, simbole, geloofstradisies en kollektiewe geheue te vervreem, word dit dikwels as kulturele volksmoord of etnoside beskryf — nie noodwendig die fisiese vernietiging van ’n volk nie, maar die geleidelike vernietiging van die bewussyn waardeur daardie volk homself as ’n historiese gemeenskap herken.
 

Juis daarom spreek die Hugenote-erfenis nie alleen van oorlewing nie, maar van selfbeskikking: die vermoë van ’n gemeenskap om sy eie instellings te bou, sy taal en geskiedenis oor te dra, sy geloof en kultuur te bewaar en verantwoordelikheid vir sy eie toekoms te aanvaar. Die Hugenote het geleer dat wanneer ’n bestaande bestel al minder ruimte vir ’n gemeenskap se identiteit en gewete laat, voortbestaan nie deur herinnering alleen verseker word nie; dit verg dat daar weer geplant, gebou en aan die volgende geslag oorgedra word. Vir die Boer is die uitdaging daarom groter as om bloot te onthou wie sy voorouers was: dit is om genoegsame ruimte vir selfbeskikking te bewaar en te skep sodat sy kinders steeds sal weet wie húlle is.

Slot

Par-delà la mer is Duquesne se historiese ballade oor meer as die vlug van die Franse Hugenote. Dit is ’n lied oor wat gebeur wanneer ’n volk se wêreld begin verbrokkel, maar sy herinnering nie saam daarmee verdwyn nie. Van die tocsin oor die Seine, deur Bartolomeusnag, La Rochelle, Genève en die Nederlandse toevlug, beweeg die verhaal uiteindelik oor die see totdat dit aan die Bergrivier en in Drakenstein nuwe grond vind. (Reeds in Sing, O Skåld het Duquesne subtiel na Par-delà la mer vooruitgewys, sodat die latere Hugenotelied nie as ’n losstaande verhaal verskyn nie, maar as ’n draad wat vroeër reeds deur die groter Duquesne-verhaal ingeweef is.)

Meer as ’n eeu se geskiedenis word in enkele minute saamgetrek, maar juis daarin word die groter patroon sigbaar. Die Hugenote verloor die veiligheid van hul vaderland en hul afstammelinge verloor later grootliks selfs die Franse taal, maar hulle verdwyn nie. Hulle word opgeneem in die groter Europese samesmelting waaruit die Boer aan die Kaap sou groei. Die plant sou later ’n ander naam dra, maar iets van die wese van die saad bly herkenbaar — in die Gereformeerde geloof, in familiename en plaasname, in herinnering, arbeid en die vasberadenheid om op vreemde grond weer ’n tuiste te maak.


Vandag staan die Hugenotemonument in Franschhoek tussen dieselfde berge waar La Motte, Cabrière en ander Franse name reeds eeue lank deel van Suid-Afrika geword het. Dit getuig daarvan dat verlies nie noodwendig verdwyning beteken nie. Wat uit Frankryk verstrooi is, het in Drakenstein wortel geskiet; wat as ballingskap begin het, het oor geslagte heen deel van ’n nuwe volkserfenis geword.

Daarin lê ook die betekenis van die Hugenoteverhaal vir die moderne Boer. ’n Volk se voortbestaan word nie alleen bedreig wanneer sy mense hul grond of veiligheid verloor nie, maar ook wanneer hy van sy geskiedenis, geloof, taal en kollektiewe geheue vervreem raak. Selfbeskikking begin daarom lank voordat ’n grens op ’n kaart getrek word. Dit begin waar ’n volk besluit om self te onthou, self te bou en aan sy kinders iets oor te dra wat groter is as die omstandighede van een geslag. Want ’n volk wat sy eie verhaal vergeet, kan nog bestaan, maar reeds besig wees om te sterf.

Daarom is die belangrikste beeld van Par-delà la mer uiteindelik nie die klok, die swaard, die skip of selfs die monument nie. Dit is die saad — klein genoeg om in ’n hand gedra te word, sterk genoeg om ’n oseaan te oorleef. ’n Tempel kan afgebreek, ’n edik herroep, ’n monument se betekenis verdraai en mense uit hul vaderland verstrooi word; maar geen vervolger kan volkome beheer wat gebeur wanneer daardie saad elders in die aarde val nie. Aan die Bergrivier het dit wortel geskiet.

En vir die geslagte daarna bly die opdrag dieselfde: om te onthou, te bewaar, te bou en genoeg vryheid vir die volgende geslag te laat dat hulle nie eendag hoef te vra wie hulle was nie, maar met sekerheid kan weet wie hulle is.

Notre refuge — par-delà la mer.

Bron

Par-delà la mer Lirieke

[Eerste Versie]

Toe die tocsin oor die Seine huil,
by Saint-Germain se donker muur,
het Hugenote in fluisterstem gebid —
’n Psalm gebore uit bloed en vuur.
La Rochelle het in skadu gestaan,
angs en gebede het deur die nag bly duur.

 

[Voorkoortjies]

Ni pour la couronne, ni pour l’épée,
mais pour rester chrétien.
Nie vir troon of wêreldse eer nie,
maar om as Protestant U Naam te dien.

 

[Koortjie]

Ons dra nie goud of land nie,
ons dra U Woord oor see.
Geen kroon rus in ons hande nie,
net wat U aan ons gee.
Wat in die nag gesaai is klein,
sal groei waar U dit plant.

[Tweede Versie]

Toe tempels tot stof geslaan is stil,
het Genève nog Psalms laat galm.
Die klokkespel in as verdwyn,
soos ’n hert wat dors is by ’n droë fontein.
Deur vreemde hawens gevlug, alleen
met God se Skrif as ankersteen.

[Derde Versie]

Van La Rochelle tot Amsterdam,
deur sout en storm oor donker see,
het U ons soos saad laat skiet,
by Drakenstein is ons gegiet.
Teen Bergrivier se sagte rand
het U ons geplant in vreemde land.

[Voorkoortjie]

La Motte onder Paarl se klip,
Cabrière in rooigrond stil —
nie as heersers oor ’n skip,
maar as dienaars van U wil.

[Koortjie]

Ons dra nie goud of land nie,
ons dra U Woord oor see.
Geen kroon rus in ons hande nie,
net wat U aan ons gee.
Wat in ballingskap gesaai is klein,
staan nou getrou in Drakenstein.

Notre refuge — par-delà la mer.
Tu fus refuge — par-delà la mer.

duquesne_extreme_low_angle_cinematic_shot_at_ground_level_wor_72bb45d1-afbc-4e01-b15a-5543

'n Smit van Noot en Letter.   

Wie is Duquesne?

Duquesne is ’n anonieme Afrikaanse kunstenaar wat beide klassieke en moderne musiekinstrumente gebruik om geskiedenis te laat weerklink.​ Nie net liedjies nie—maar klank-verhale. ​Met ’n styl wat sinematies klanke, rou lirieke en historiese bewustheid kombineer, neem elke vrystelling die luisteraar na spesifieke gebeurtenisse in ons Volks se geskiedenis.

DIE MISSIE​​

Om Afrikaanse geskiedenis en identiteit deur musiek te bewaar, te eer en weer te laat weerklink—nie as nostalgie nie, maar as lewende herinnering.

Player
db4be12d-92dd-49db-a19e-4051b76de2cb-2026-04-23.png

"Notre refuge — par-delà la mer."
- Duquesne

Volg @Duquesnemusiek

en bly op hoogte van nuwe vrystellings!

  • Facebook
  • TikTok
  • Instagram
  • Youtube
  • Spotify
  • Apple Music

© 2026 by Duquesne Musiek Produksie.

bottom of page